Die twee aantreklike vroue sit langs mekaar op die rusbank en handjies vashou, smoorverlief en baie ingenome dat hulle met Huisgenoot gesels. Want was dit nie vir dié tydskrif nie, sou hulle dalk vandag nog mans gewees het. In albei se lewe was ’n Huisgenoot-artikel die sleutel wat hul ware identiteit help ontsluit het. En nou, hoop hulle, doen hulle s’n dalk dieselfde vir ander. Dit was in 1998, onthou Laura Meads (28), dat sy die eerste keer besef het ’n mens kan transseksueel wees.

Bespreek vir Skouspel!

‘‘Daar was ’n artikel in Huisgenoot oor Dana International, die Israeliese sanger wat die Eurovision-kompetisie gewen het en wat voorheen ’n man was (Triomf van sangeres wat ’n man was, 21 Mei 1998). Haar verhaal het my laat besef daar is ander mense wat met dieselfde gevoelens as ek worstel.’’

Skielik het die wrede gekoggel van kinders wat die verfynde skoolseun onophoudelik geboelie en ‘‘moffie’’ genoem het, nie meer so seergemaak nie. Laura het besef haar versugting om ’n vrou te wees maak nie van haar ’n natuurfrats nie. Ook Jessica Venter (27) het destyds as 16-jarige plaaskind in ’n konserwatiewe boeregemeenskap met verwondering in Huisgenoot gelees van iemand wat net soos sy is. En sy het besef dis moontlik om jou lyf te verander sodat jy kan uiting gee aan wie jy werklik is.

‘‘Ek het van jongs af geweet ek is anders, maar ek het nie geweet op watter manier nie. Soos Laura het ek ook nie geweet of ek gay is nie; ek het net anders gevoel.’’

En nadat Jessie uitgevind het wat sy regtig wou wees, het sy haar tuisdorp dadelik ná matriek verlaat op soek na mense wat haar kan help om uiting aan haar ware identiteit te gee.

Laura en Jessica het twee maande gelede saam ’n eerste operasie ondergaan om permanent in vroue te verander. Hulle het ook borsvergrotingsoperasies ondergaan en spog onderskeidelik met ’n nuwe borsmaat van 36B en 34B.

Lees die volledige artikel in Huisgenoot van 24 Desember.