Die verandering kom nadat hy sewe maande gelede met behandeling begin het om sy geslag te verander.

Hy kon nie meer in die liggaam van ’n vrou leef nie, vertel Abil, eienaar van The Homemade Kitchen, ’n restaurant en koffiekroeg op Hennenman in die Vrystaat.

[caption id="attachment_160449" align="alignnone" width="600"]Abil, toe nog Aimee, as ’n jong meisie. Abil, toe nog Aimee, as ’n jong meisie.[/caption]

Die enigste en beste restaurant op die dorp, spog hy vinnig.

“My brein het al van kleintyd af vir my gesê ek is ’n man, maar my lyf het my verraai,” verduidelik hy.

Gedurende sy hoërskooljare as ’n koshuisinwoner van die Paarl Gimnasium was hy nog Aimee. “Ek het altyd soggens vroeg gaan stort, voor die ander meisies badkamer toe gekom het, want ek was skaam om hulle kaal te sien. Ek het gemeen dit sou verkeerd wees om saam met hulle te stort omdat ek myself as ’n seun beskou het.

“Toe ek destyds borste kry, wou ek hulle met ’n mes afsny. Ek het dit gehaat.”

Hy dink al sowat sewe jaar daaraan om van geslag te verander, maar kon nooit die regte mediese advies kry nie. “Veral hier in die Vrystaat is geen kenners op hierdie gebied nie.”

[caption id="attachment_160450" align="alignnone" width="600"]Vandag is hy trots op sy nuwe, manlike voorkoms. Vandag is hy trots op sy nuwe, manlike voorkoms.[/caption]

Met die steun en aanmoediging van Lana Piechaczek, sy lewensmaat sedert 2010, het hy hom in die laaste paar jaar tot verskeie aanlyn vroulik-tot-manlik-steungroepe gewend vir raad.

“Die organisasie Gender DynamiX in Kaapstad doen ook baie goeie werk onder transgender mense,” vertel hy. “Verlede jaar het ek in verbinding getree met ’n dokter en sielkundige in Johannesburg, en ek het besluit om met die geslagsverandering voort te gaan.”

[caption id="attachment_160451" align="alignnone" width="600"]Sy brein het al van kleins af vir hom gesê hy is ’n man, maar sy lyf het hom verraai, vertel Abil Lindner Sy brein het al van kleins af vir hom gesê hy is ’n man, maar sy lyf het hom verraai, vertel Abil Lindner[/caption]

In daardie tyd het hy vir sy pa gesê hy moet hom nou ’n mansnaam gee.

“ ’n Paar jaar later bring my pa toe vir my ’n nota waarop hy ‘Abil’ geskryf het. Dit is vir my ’n mooi naam; daarom is dié nota nou ook my profielfoto op Facebook.”

[caption id="attachment_160452" align="alignnone" width="600"]Abil se pa het sy nuwe naam op hierdie briefie vir hom gegee. Abil se pa het sy nuwe naam op hierdie briefie vir hom gegee.[/caption]

Eers moes Abil drie maande lank weeklikse sessies met die sielkundige ondergaan, waarna die dokter met sy testosteroonbehandeling begin het.

“Die behandeling is nog nie klaar nie, maar ek lyk reeds baie anders as aan die begin van verlede jaar,” vertel Abil. “Ek lyk ál meer soos ’n man. My borste het gekrimp, my heupe is smaller en ek het heelwat spiere gekry. Ook meer hare oor my hele lyf. Ek lyk deesdae soos ’n bees!”

Sy stem is ook baie dieper.

Eindelik voel hy gemaklik in sy lyf, en dis dié dat hy deesdae nie genoeg na homself in die spieël kan kyk nie. Al die steun van die plattelandse gemeenskap waar hy woon, laat hom ook goed voel, vertel Abil.

Hy gaan nie ’n penis-oorplanting kry nie, maar sy borste moet nog verwyder word. “Ek kan nie wag nie!” sê hy opgewonde.

Sy grootste begeerte is immers om eendag hemploos op die strand te loop.