Dit is nou net langer as ’n jaar gelede dat ’n verwoede swerm bye die eens aktiewe en lewenslustige Gert van der Merwe tydens ’n drafsessie op ’n plaas buite Mbombela (voorheen Nelspruit) beetgepak het.

[caption id="attachment_146860" align="alignnone" width="600"]xx Gert se ma, Marika, langs hom in die hospitaal. Foto: Mduduzi Ndzingi[/caption]

Gert (44) se vriendin Juanita du Plooy (toe 43) en oudste seun, Gert jr. (toe 19), wat ook aangeval is op die Fredenheid-landgoed, waar die bye gebruik is om die macadamia-boorde te bestuif, het volkome herstel, maar Gert se familie moes intussen die hartverskeurende besluit neem om hom na ’n inrigting te stuur.

Nadat sy ma, Marika van der Merwe (64), eers maande langs sy hospitaalbed in Bloemfontein gewaak het, het sy hom tot nou self by haar huis in Ladybrand in die Oos-Vrystaat versorg.

“Gert is steeds in ’n vegetatiewe toestand, maar nou reageer sy brein glad nie meer nie. Ek glo hy kan nou net tussen lig en donker onderskei,” vertel sy telefonies van Ladybrand.

Huisgenoot het in Februarie oor die tragedie berig. Gert, Juanita en Gert jr. het geen manier gehad om te weet werkers het die bye kort tevore versteur nie.

Al het hulle in die heuphoogte-besproeiingskanaal langs hulle gespring, het die derduisende bye hulle aangeval elke keer dat hulle moes asem skep.

Gert het waarskynlik sy seun en Juanita se lewe gered. Hy het vir sy seun geskree om van hulle af weg te hardloop. Kaalbolyf het hy die ergste trotseer terwyl hy sy T-hemp oor sy vriendin se gesig gesit en haar kop soveel moontlik onder die water gehou het. Gert se jongste, Jaco (toe 15), het die aanval vrygespring omdat hy daardie dag vooruit gedraf het.

Werkers het Gert-hulle opgelaai en na die huis gebring. Gert, ’n asmalyer wat nie vroeër allergies vir bye was nie, het gou asemhalingsprobleme ontwikkel. Gert jr., wie se oë byna toegeswel was, het met Jaco se hulp oor sypaadjies gery om so vinnig as moontlik by die hospitaal te kom. Gert was toe reeds potblou weens ’n gebrek aan suurstof.

[caption id="attachment_146861" align="alignnone" width="600"]xx Noodpersoneel het die derduisende angels soos ’n skil van Gert afvee. Hier is hy saam met sy ma, Marika, en sy suster, Anita van Wyk. Foto: Mduduzi Ndzingi[/caption]

Die noodpersoneel het 12 minute gespook om hom by te kry toe sy hart gaan staan. ’n Mens kon die derduisende angels soos ’n skil van hom afvee. Juanita en Gert jr. is ook honderde kere gesteek, maar het in die hospitaal vinnig herstel.

By Huisgenoot se besoek aan Gert in Februarie het dit gelyk asof Gert ’n mens nog met sy oë kon volg, al het hy weinig breinfunksie oorgehad.

Marika vertel dit is nie nou meer die geval nie. Al funksioneer sy ander organe nog uitstekend, kan sy sien daar is geen teken dat Gert enigsins weet wat om hom aangaan nie. Hy het ook baie gewig verloor sedert Huisgenoot se besoek. Die eens stewige en gespierde man weeg nou skaars 50 kg.

Die ma sê sy het besef sy raak nie jonger nie en ’n meer permanente versorgingsplan moes in plek gestel word. Die familie het saam besluit om hom te verskuif na ’n versorgingsoord in Nelspruit, waar hy nader aan Juanita en sy seuns kan wees.

“Juanita is amper elke dag by hom, maar vir die seuns is dit nog moeilik om hul pa so te sien,” vertel Marika.

Sy vertel sy het Juanita en die personeel by die inrigting self “opgelei” om Gert so gemaklik en pynloos as moontlik te hou. Dit is al wat enigiemand in dié stadium nog vir hom kan doen.

“Gert kan nie die donkerte verdra nie. Ons hou die lig snags gedemp, dan slaap hy baie beter en rustiger,” vertel sy.

Dit was vir haar baie moeilik om haar seun na ’n inrigting te stuur.

“Dit was ’n swaar afskeid,” vertel sy. En oor die maande dat sy haar seun self versorg het, sê sy: “Ek het vrede in my hart. Dit was net ’n voorreg om dit vir hom te kon doen.”

[caption id="attachment_146859" align="alignnone" width="600"]Voor die voorval was Gert 'n lewenslustige man. Foto: Verskaf Voor die voorval was Gert 'n lewenslustige man. Foto: Verskaf[/caption]