’n Vrou van die Oekraïense hoofstad Kiëf kan swaar tronkstraf opgelê word nadat haar eenjarige seuntjie gesterf het omdat sy hom en sy sussie nege dae lank sonder kos gelaat het.

Vladislava Podchapko (20) is in hegtenis geneem nadat haar eenjarige seun, Daniil, weens honger gesterf het. Sy tweejarige sussie, Anna, het glo sowat drie dae lank by sy lykie gewaak voor hul ma teruggekom het huis toe. Anna was ook naby aan die dood.

“Dit gaan nou beter met haar en sy sal oorleef,” het dokters wat by haar behandeling betrokke was, aan die Europese media gesê.

Vladislava het glo die twee kinders alleen by die huis gelos om by haar kêrel te gaan kuier en volgens haar nie besef haar kleuters sal sterf van die honger nie. Die kleuters het uit die woonstel probeer ontsnap en die linoliumvloer in die kombuis was by die deur stukkend soos hulle dit probeer oopbreek het om te ontsnap. Die bure het die kinders glo hoor huil en die polisie gebel, maar dit blyk die polisie het nie gereageer nie.

In haar tuisland eis mense nou dat Vladislava die doodstraf opgelê word of swaar gestraf word vir die gru-daad. Tog word berig dat sy net agt jaar tronkstraf opgelê kan word weens beweerde nalatigheid.

Dit is onseker wat van klein Anna sal word indien haar ma tronkstraf opgelê word. Dit blyk haar pa is nie in die prentjie nie en maatskaplike werkers het gesê sy sal moontlik na ’n kinderhuis gestuur moet word.

Die woonstel waarbinne die twee kleuters gevind is:

Bronne: Metro, Daily Mail, Mirror