Lorenzo is maar 17 maande oud. Groot was sy ma, Jaine Fingueria (19), se verbasing toe haar seun vol bloed aan sy mond en hande by hul huis op die dorp Mostardas in Brasilië ingehardloop kom.

Jaine het onraad begin vermoed toe sy nie haar seun hoor waar hy in die tuin gesit en speel het nie. Dis toe sy gaan ondersoek instel dat sy hom met die bebloede mond en hande aantref.
By Lorenzo was ’n dooie slang. En dit blyk Lorenzo het hom doodgebyt. Erg ontsteld het Jaine haar man, Lucier de Souza (22), geroep en hulle het dadelik die sowat 175 km afgelê na die naaste hospitaal. Gelukkig het hulle kopgehou en die slang in ’n bottel saamgeneem hospitaal toe.

Daar het kenners die slang as ’n uiters giftige jaraca geidentifiseer. Sonder mediese hulp kan dit tot dodelike bloeding en nierversaking lei as dié slang jou byt.

Lorenzo se ouers het eers gedink hul hond het die slang doodgebyt, maar ’n dokter het hulle ingelig hul seun het die slang agter die kop beetgekry en so gekeer dat die slang hom kon pik.

“Die seun was erg getraumatiseer,” het die dokter later gesê. “Ek dink dit was ’n selfverdedigingsmeganisme wat ingeskop het. Of hy het gedink dis ’n speelding.”

Bronne: RT News; Independent Online