weerprentjie

Die voorspelling is dat die reën in die noordelike dele van die land en die binneland heelwat sal opdroog en dat temperature in dié gebiede sal styg na matig en warm.

Nietemin bestaan daar steeds ’n sterk kans van verspreide donderbuie in die noordelike dele en binneland vir die res van die week.

Hoewel die temperature in die binneland ook na verwagting na normaal sal styg, kan onweer weens ’n koue front later in die week verwag word.

Volgens Wayne Venter, voorspeller by die SA Weerdiens, kan die Wes-Kaap uitsien na die moontlikheid van reën die komende naweek. Die gebied sal na verwagting steeds matig tot warm bly vir die res van die week.

Wayne verduidelik dat die onlangse swaar reënval in die noordelike dele van die land die gevolg was van oortollige tropiese vog wat uit die noorde van Namibië en Botswana af oor die land inbeweeg het.

“Die tropiese vog het intussen redelik verminder en dus sal die konstante reën wat in sekere dele van die land ervaar is, van dié week af opklaar,” het hy gesê.

Volgens hom was die onlangse reënval nie buitensporig of vreemd vir dié tyd van die jaar nie. “Dit is die tipiese reënval wat ons jaarliks einde Februarie na begin Maart verwag.”

Hy voeg by dat die weerstoestande vir die volgende twee weke na verwagting stabiel sal wees.