Nou, 20 jaar later, gaan die Tamagochi-reeks weer herleef. Maar wag voordat jy jou na die naaste speelgoedwinkel haas, moet jy eers die slegte nuus aanhoor.

Dit gaan (voorlopig) net in Japan vrygestel word en die eiertjies het ’n bietjie gekrimp van hul oorspronklike grootte. Die prys is egter aansienlik hoër sou jy dit oorweeg om een via Amazon Japan aan te koop. Dit kan jou sowat R230 uit die sak jaag.

Toe Bandai die eerste Tamagotchi-“eiers” in 1996 in Japan en in 1997 in Amerika vrygestel het, was dit allesbehalwe ’n gesofistikeerde speletjie. Die illustrasies was basies en die interaksie met die speletjie was ewe basies.

Daar was bloot net drie knoppies wat ingespan moes word om jou Tamagotchi-troeteldier – een van ses karaktertjies – aan die lewe te hou. Maar dit was juis die eenvoud van wat van jou verwag is, wat die speletjie so geheel verslawend gemaak het.

Jy moes jou elektroniese “troeteldiertjie” kos gee, agter hom skoonmaak en natuurlik met dit speel.

Die karaktertjies het verskeie ander behoeftes en emosies gehad. Daar was ’n hongermeter, ’n vlak van geluk-meter, ’n armbandmeter en ’n dissiplinemeter. Die karaktertjie kon selfs siek word.

Maar o wee! As jy nie genoeg aandag aan die dingetjie spandeer het nie, het dit doodgegaan. En dit was ’n hartseer wat nie sommer weggegaan het nie.

Daar was talle stories van Tamagotchi-eie(r)naars wat só geheg aan hul karaktertjie geword het, dat hulle selfs oppassers vir hulle gereël het op die aande wanneer hulle nie self na die rakkers kon “omsien” nie.

Een ouer vertel dat haar kind se skool die eiertjies destyds verban het. Sy moes hulle saamneem na haar eie werk om hulle aan die lewe te hou.

Pretfeite

Daar is meer as 76 miljoen Tamagotchi’s wêreldwyd verkoop tot en met 2010.

Tamago beteken eier in Japannees en dophou (“watch”) in Engels.

Dit is deur Aki Maita ontwerp. In 1997 het sy die Nobelprys vir ekonomie daarmee verower.

Bronne: fortune.com, telegraph.com, huffingtonpost.co.za