Wou jy nog altyd ‘n blog begin, maar nog nooit regtig geweet hoe om die ding aan die gang te kry nie? Ons help julle uit met ‘n paar handige wenke.

Bespreek vir Skouspel!

Waar kan ek blog?

Om te begin blog moet jy eers ‘n platform kies vanwaar jy jou blog kan aanbied. Die platform speel “gasheer” vir jou blog.

Net soos Twitter en Facebook moet jy registreer op die platform om jou blog te begin. Meeste platforms is gratis.

Ons beveel hierdie platforms aan:

www.wordpress.com:

Vir die ernstige blogger wat meer beheer wil hê oor die uitleg en voorkoms van die blog. Die platform is dalk moeilik om aan die begin te verstaan, maar gebruikers raak dit sommer vinnig touwys. Wordpress verskaf ook waardevolle inligting oor die hoeveelheid besoekers en trefslae wat jou blog daagliks, weekliks en maandeliks kry.

www.letterdash.com:

Die ideale platform as jy in kontak wil bly met ander plaaslike blogs. Jy kan selfs ‘n netwerk kies waarbinne jy wil blog. Veral Afrikaanse bloggers sal onder die Litnet-netwerk ‘n lekker gemeenskap vind van ander Afrikaanse bloggers.

www.blogger.com:

Gekoppel aan Google. Ideaal as jy foto’s, stories of videos met die wêreld wil deel.

www.tumblr.com:

Gebruik dit as jy meestal foto’s wil deel of ander interessante mooi dinge wat jy ontdek.

Ek het geregistreer, maar wat nou?

Hierdie is die beste deel. As jy eers al die administratiewe take voltooi het, kan die pret begin. Skryf oor interessante dinge, neem foto’s of maak video’s en begin dit op jou blog laai.

‘n Goeie wenk sal wees om eers ‘n klomp inhoud op jou blog te laai voordat jy dit aan die wêreld bekendstel. Meeste bloggers se eerste en tweede inskrywings verkondig hulle met groot bravade en sodra hulle stoom verloor laat dit hul rooi in die gesig.

Werk eers ‘n bietjie aan jou blog voor jy dit haastig met almal begin deel.

Hier’s ‘n paar wenke:

Kies ‘n tema: Blogs met ‘n tema is gewoonlik meer suksesvol as ander waar daar sommer oor alles en als geskryf word. Kies iets soos mode, kos, fotografie of gesondheid en maak dit die fokus van jou blog.

Soek ander blogs met dieselfde tema: Soek bietjie op die platform rond na ander blogs met dieselfde tema as joune. Maak kontak met daardie bloggers in ‘n poging om bewustheid van jou blog te skep.

Publiseer op ‘n gereelde basis: As jy eers begin blog moet jy toegewyd wees. Jy kan ‘n daaglikse of weeklikse blog begin. Maar dan sal jy altyd moet byhou. Sodra jy ophou om op ‘n gereelde basis te publiseer sal jy al jou getroue volgers verloor. Niemand hou van ‘n blog wat weke lank dieselfde inhoud op die tuisblad het nie.

Gebruik jou kennis: Blog oor iets wat jy kennis van het. Jou eie ervaringe maak vir die beste leesstof. As jy hou van die tema waaroor jy blog gaan dit die hele proses soveel makliker maak.

Bemark jou blog: Kry jou blog se naam op almal se lippe. Hier kan Twitter en Facebook gebruik word om mense van jou blog te vertel. Deel die skakel met vriende en kollegas en kry verwysings vanaf ander bloggers.

Laastens: Geniet dit. Hou dit eenvoudig en moenie opgee nie.

Blogs wat jy kan besoek:

Kos:

Sardines on Toast

Jamie Who?

Mode:

Polaroids on Sidewalks

1 for 1

Afrikaans:

Dopper Maggie

Iets vir die ouens:

The Tudor

Iets vir die meisies:

Lady K

Fotografie:

Guy with camera