Dit klink dalk uitsonderlik, maar dit is glad nie iets nuuts vir Khujwana se leerders en onderwysers nie. Een jaar was daar meer as 20 tweelinge in die skool.

Die adjunkhoof en gr. 7-onderwyser, Simon Moagi, het geskrik toe hy weer “dieselfde” meisie van sy vorige klas sien. “Ek het gesê sy moet ophou speel en maak dat sy by haar klas kom; sy was dan nou in my vorige klas. Die kinders het my net uitgelag,” sê hy. Simon het eers verlede jaar by die skool aangesluit.

Hy het besef daar is iets aan die gang toe hy “dieselfde” seun in twee verskillende klasse sien. “Ek het later nog twee tweelinge ontdek en dit het my geïnteresseer. Dis hoe ek begin ondersoek instel het na hoeveel tweelinge in die skool is.”

Hy het ontdek altesaam 14 tweelinge is by die skool geregistreer, van wie 13 by verskillende klasse ingedeel is. Net die tweeling Beyonce en Bianca Shikwambana (gr. R) is in dieselfde klas. “Onderwysers by die skool glo tweelinge moet in verskillende klasse wees omdat hulle mekaar se vordering kan beïnvloed. Hulle word net in hul eerste skooljaar saam geplaas,” verduidelik Simon.

Volgens die webtuiste van die Suid-Australiese regering is daar ’n toename in die getal tweelingswangerskappe wêreldwyd. Dit is as gevolg van die ouderdom van die moeders en kunsmatige bevrugting.

- Deur Koketso Mashika

Bronne: www.health.sa.gov.au, African Eye News Service