Maar kan julle glo dis vandag (9 Oktober) al ’n jaar vandat die eindstryd van die reeks uitgesaai is? Intussen het die wenner, Christiaan Boonzaier, en naaswenner, Astrid Lippert-Fisher, albei ’n pos by die land se grootste en gewildste tydskrif, Huisgenoot, losgeslaan en is die trefferreeks met ’n ATKV-mediaveertjie vir beste vermaakprogram bekroon.

Maar daar is selfs nog goeie nuus. Van topposte tot troues en ’n baba het al die Saktyd-deelnemers goeie nuus om te deel. Ons vra agt van die 13 vyf vrae om te hoor hoe hul paadjies intussen verloop het, wat hulle die meeste in hul tyd by Huisgenoot geleer het en wat van hul grootste geheime agter die skerms is . . .

Jeannie

JEANNIE ERASMUS (24) van Moorreesburg

Weke in die reeks: 12

Hoe het jou paadjie sedert Saktyd verloop?

Ek het eers my honneursgraad (B.Com. Toerismebestuur) by Pukke klaargemaak en werk nou as ’n senior skakelbeampte by Red Ribbon Communications op Moorreesburg.

Wat is jou beste herinnering van die reeks?

Sjoe, dit is nogal moeilik om net een te kies. My beste herinneringe aan Saktyd gaan baie meer oor die lag-tot-die-trane-rol-oomblikke wat ons amper elke dag agter die skerms gehad het. Die Saktyd-deelnemers was omtrent soos ’n klein bende wat daagliks die Naspers-sentrum oorgeneem het; waar ons was, was daar altyd vet pret!

Daar was ’n paar deelnemers wat hul mes vir jou in gehad het (Lilian, Christian . . . ). Is julle nog in aanraking met mekaar?

Nee, ons is nie.

Jy’t in ’n stadium nogal erg deurgeloop onder kritiek van die publiek. Is jy nog kwaad (of voel jy sleg) daaroor?

Nee wat. Ek het vroeg in die reeks vrede gemaak daarmee dat daar altyd mense sal wees wat kritiek lewer. As daar een ding is wat ek geleer het, is dit dat mense altyd dink hulle sal beter kan vaar as jy in ’n spesifieke situasie, al het hulle geen insig in jou omstandighede nie. Die kritiek het my eerder aangespoor om nou minder krities te wees teenoor ander mense en te probeer om altyd die breër prentjie te sien, juis omdat ek weet hoe ek gevoel het as mense in my karakter inklim sonder dat hulle my of die omstandighede ken.

Enige ander groot planne?

Ek is ongelooflik passievol oor die beplanning van troues en hoop om in die nabye toekoms weer te begin om troupaartjies se drome waar te maak. En dalk wag my eie besigheid ook om die draai . . .

Jurie

JURIE PRINS (34) van die Paarl

Weke in die reeks: 11

Jurie, wat het jy als in die afgelope jaar aangevang?

Ná Saktyd het ek by Aardklop as komediant opgetree. Dit was ’n eerste, aangesien ons geskiedenis gemaak het deur die eerste Afrikaanse skerpskerts-vertoning te wees wat by so ’n fees optree. Aardklop was vir my ’n hoogtepunt omdat ek die verhoog gedeel het met akteurs en komediante soos Neels Claasen (Binneland), Melt Sieberhagen (Proesstraat) en Karen Wessels (Wolwedans in die Skemer). Ek is ook nou voorsitter van die Oumeul-teater in die Paarl en is dus ook betrokke met hul amateurteatergroep.

En daar’s mos nuwe liefde ook?

Ja, ek’s nie getroud nie, maar wel in ’n verhouding met ’n wonderlike blondekop-meisie wat ek so paar maande ná Saktyd ontmoet het.

Wat het jy uit die reeks van jouself geleer?

Beslis om te fokus en om die “ander” sy van stories na te jaag. Ook om te luister en om altyd objektief te bly. Hoewel ek voorheen onder druk gewerk het, het ek in Saktyd geleer hoe om dit voor die kameras te doen!

Is jy spyt oor enigiets?

Ek is spyt ek het nie nog harder probeer nie; ek is maar ’n slegte verloorder, maar het die beoordelaars se besluit aanvaar. Ek wou wel verder gaan, veral omdat ek gevoel het ek het net my voete begin vind. Verder het my persoonlike lewe in daardie stadium my lelik beïnvloed. Ek sou graag wou deelneem sonder daardie invloed en glo ek sou beter gevaar het. Ten spyte van als het ek dit tog gate uit geniet.

Vertel ons ’n agter-die-skerms-geheim, wat niemand weet nie.

Niemand weet dit nie, maar Wicus (Pretorius, een van die Saktyd-beoordelaars) het altyd my raad kom vra oor wat hy die volgende dag vir die program moet aantrek . . . En dan is daar ook die geheime agter-die-skerms-video, wat ek geneem van van die deelnemers . . .

Christian

CHRISTIAN LEE (24) van Kaapstad

Weke in die reeks: 9

Christian, vertel ons wat jy als sedert Saktyd vermag het?

Jong, ek werk steeds in kuns en mode. Ek doen kreatiewe leiding, vervaardiging en stilering in Suid-Afrika en oorsee, maar die meeste van my tyd word in modeweke in Johannesburg, Kaapstad, Durban en die res van Afrika ingeploeg.

Wat is jou gunsteling-herinnering van die reeks?

Die tydskrif-verkoop-episode. My vriende kyk dit herhaaldelik net om my te herinner hoe mal ek word wanneer die adrenalien eers pomp!

Toe jy uitgestem word, het jy gevoel jy’s verraai. Is jy nog kwaad; en het jy nog kontak met die deelnemers vir wie jy kwaad was?

Dit als hoort tot die verlede. Ek’s net jammer ek’t nie tyd om meer kontak te hê met sekere deelnemers nie! Ek praat af en toe met Leilani en Lilian, maar beslis nie genoeg nie!

Enige interessante planne?

Ek het ’n enkelsnit saam met DuPreez Strauss uitgereik en dit het gelei tot nog ’n paar enkelsnitte; die musiekvideo word binnekort ook uitgereik. Kyk maar uit vir Zombie ft. Skye Berry – en soos Huisgenoot reeds aangekondig het, is die eerste enkelsnit se naam, It Never Drowns.

Deel ’n agter-die-skerms-geheim met ons.

Ek, Jurie, Leilani, Lilian en af en toe ’n paar van die ander het ongeveer drie tot vier bottles Merlot elke aand gedrink . . .

LAURA STOPFORTH (24) van Kaapstad

Weke in die reeks: 9

Ons weet die afgelope jaar was vir jou propvol. Vertel!

Jinne, daar het al so baie gebeur! Ná die reeks het ek verloof geraak en is in Maart vanjaar getroud. Ek het ook onlangs met ’n nuwe werk begin as ’n bemarkingsassistent by Sportsmans Warehouse. En dan het ek en my man, Erick, ook van Stellenbosch Claremont toe getrek om nader aan ons werk te wees. So: nuwe huis, nuwe werk en nuwe man!

Het Saktyd jou enigiets van jouself geleer, wat jy nie voorheen geweet het nie?

Ek het nog nooit eintlik daaraan gedink nie. Ek dink ek het ’n passie vir die mediabedryf ontdek. Saktyd het beslis vir my ’n kykie agter die skerms van die media- en tydskrifbedryf gegee en my belangstelling daarin geprikkel.

Enigsins spyt of kwaad oor iets?

Ek dink die produksiespan was fantasties, maar ek voel hulle het my uitgebeeld as ’n baie emosionele persoon – en dit is glad nie ’n ware weerspieëling van wie ek is nie. Die kameras neem heeldag alles af, maar net ’n halfuur daarvan is uitgesaai.

Sal jy dit ooit oorweeg om aan nog ’n werklikheidsreeks deel te neem?

Die hele ervaring was ongelooflik; ek sal verseker weer deel wees van ’n werklikheidsreeks as die geleentheid ooit oor my pad kom.

Enige ander groot planne?

Ek is mal oor my werk; so dis nou vir my belangrik om te fokus op my loopbaan en natuurlik my man. So niks groot planne vir nou nie, maar watch this space!

Leilani

LEILANI KUTER (38) van Johannesburg

Weke in die reeks: 8

Wat doen jy als sedert Saktyd?

Ek is in Maart getroud met my beste vriend, Roelie Kuter. Ander hoogtepunte is my besigheid wat twee nuwe afdelings, QTV en YellowTube, oopgemaak het. Ek het twee Danville Diva-liefdadigheidsprojekte gehou én ek het twee van my droombestemmings besoek, Frankryk en Italië.

Het Saktyd jou enigiets van jouself geleer, wat jy nie voorheen geweet het nie?

Dit het my geleer om te luister en geduldig ’n besluit te neem, en dit het my net weer laat besef dat harde werk die sleutel tot sukses is; dis hoekom Huisgenoot so suksesvol is.

Wat sou jy oordoen as jy kon?

In episode agt het ek nie paragrawe in my storie gemaak nie. Dit was ’n verleentheid – en my storie was eintlik regtig goed. Dit sou my beslis nog ’n program of wat langer in die reeks gehou het.

Sal jy ooit nog ’n werklikheidsreeks aanpak?

Beslis. Ek is mal oor ’n uitdaging.

Enige ander groot planne?

Ek is 100 persent ’n entrepreneur; so ek dink altyd aan nuwe idees om as ’n sakevrou te groei.

Elridusklein

ELRIDUS GROBLER (27) van Kaapstad

Weke in die reeks: 5

Waar in die wêreld bevind jy jouself nou – en wat doen jy als?

Ek bly tans op my eie in Bellville, en neem van tyd tot tyd foto's. Ek is steeds enkellopend en het in die afgelope jaar Leeukop manalleen uitgeklim – vir die eerste keer.

Wat is jou gunsteling-herinnering van die reeks?

My grootste herinnering van Saktyd was toe Leilani gehuil het toe ek uitgestem is. Dit was baie spesiaal, aangesien sy net regs van my gesit het.

Enige kwade gevoelens oor enigiets wat in die reeks gebeur het?

Geen. Ek wens egter dat die reeks meer die werklikheid wou wys, in plaas van ’n opgediste weergawe van hoe dit was – met ander woorde, dat die spanning, soos dit was, weerkaats kon word, in plaas van ’n humoristiese uitbeelding daarvan.

Sal jy weer aan ’n werklikheidsreeks deelneem?

O, ja! Ek wil saam met Tammy-Ann Fortuin vir kykers wys wat die waarde van knoffel, goeie (rooi)wyn, suurlemoensap en kruie by ’n goeie stuk lendeskyf is. En ek wil ook graag MasterChef doen – en veral die kykNET-reeks Die Foon. Nie Survivor nie, aangesien ek te veel my gemakgoedjies sou mis, soos ’n nagrus, ’n goeie stort en vars klere soggens.

Enige groot toekomsplanne?

Ek beoog om nog valskerm te spring en te skubaduik. Ek hoop om dit te tem!

Lilian

LILIAN STRAUSS (24) van Johannesburg

Weke in die reeks: 4

Waar in die wêreld bevind jy jouself nou – en wat doen jy?

Ek is nou baie gelukkig in Johannesburg – en het die Kaap gegroet toe ek my droomwerk in reklame gekry het. Dit was die beste besluit van my lewe (tot dusver).

Het jy enigsins iets oor jouself geleer, wat jy nie voorheen geweet het nie?

Die lewe is te kort om berou te hê oor iets. Elke geleentheid wat jy gryp kan die kans van jou lewe wees.

Is jy enigsins spyt of kwaad oor iets? Ons weet jy’t nogal jou mes vir Jeannie in gehad.

Nee, glad nie. Dit was ’n goeie ondervinding; ek het baie geleer. Dis ook ’n lekker storie om te vertel by ’n dinee.

Wat sou jy wou oordoen, as jy kon?

Ek sou my hare wou kam vir die laaste skote.

Enige ander groot planne?

Om so gou moontlik ’n lekker Sondagmiddag-skaapboud saam met my ma, pa en broer te eet.

Leveinia

LEVEINIA BOTHA (43) van George

Weke in die reeks: 2

Wat doen jy sedert Saktyd?

Ek werk nog by die George-munisipaliteit. In Julie vanjaar het ek die wonderlike geleentheid gehad om Brasilië toe te reis vir die 27ste Wêreldjeugdag-byeenkoms, saam met ’n groot aantal jong mense van dwarsdeur die wêreld. Natuurlik was die hoogtepunt daar om pous Franciskus in lewende lywe te sien. Dit is nie aldag dat Katolieke die leier van hul kerk in lewende lywe te sien kry.

Het Saktyd jou enigiets oor jouself geleer, wat jy nie voorheen geweet het nie?

Ek is ’n baie beter spreker as skrywer – dit weet ek nou vir ’n feite. Ek geniet gemeenskapsradio en leef my werklik uit agter die mikrofoon.

Jy was baie kort in die kompetisie. Enigsins nog spyt of kwaad daaroor?

Geensins. My aansoek, as ek reg onthou, het ek ’n dag voor die sluitingsdatums ingedien. Ek het letterlik net ’n vet kans gevat. Alles het so vinnig gebeur. Dit was ’n wonderlike ervaring, ongeag die feit dat ek so vroeg uit is. Ek kan nogal gewoond raak aan die BBP-behandeling.

Wat sou jy wou oordoen, as jy kon?

Beter voorberei – en nie so halsoorkop in die ding ingaan nie.

Sal jy dit ooit oorweeg om aan nog ’n werklikheidsreeks deel te neem?

Beslis ja, solank dit nie iets is waar ek moet swem nie, want dié kan ek nie.

– Christiaan Boonzaier