“Die ding wou my nie los nie. Dit het my ingesluk.

“En toe sê Hennie vir my: ‘As dit jou insluk, skryf daaroor’.”

So verduidelik die skrywer Rachelle Greeff die totstandkoming van haar toneelstuk Rondomskrik, wat die grusame verkragting van en moord op Anene Booysen as ’n vertrekpunt gebruik.

Dit was gister ’n jaar vandat Anene se dood en verkragting op Bredasdorp plaaslik en in die buiteland opspraak gewek het.

Rachelle het Rondomskrik geskryf en dit saam met die vervaardigers Hennie van Greunen en Pedro Kruger op die planke gebring om ’n boodskap van “hopelik hoop” oor te dra.

Shaleen Surtie-Richards vertolk die rol van Jasmien Adams, ’n onderwyseres op die dorp Rondomskrik. Hier probeer sy ’n verskil in haar leerders se lewe maak, onder andere in die tienerdogter Antjie Fortuin s’n.

Rachelle sê die saga oor Anene se dood het haar, net soos die res van Suid-Afrika, so diep geraak dat sy nie anders kon as om ’n toneelstuk oor haar te skryf nie.

“As mense dink hulle gaan grusame details en bloed sien, moet hulle by die huis bly.

“Rondomskrik gaan nie daaroor nie. Dit gaan oor dieper vrae beantwoord, soos waarom gebeur dié soort goed in ons land. En dit soek nie oppervlakkige antwoorde soos dat Anene laat die aand alleen huis toe gestap het of dat die kroeg drank bedien het nie; dit vra waarom een mens in ’n gemeenskap so iets aan ’n ander sal doen.

“’n Mens staan tog nie los van sy gemeenskap nie.”

Rachelle vertel dat sy kort ná Anene se dood heelwat tyd op Bredasdorp deurgebring het om die gemeenskap en mense na aan Anene te leer ken.

In dié tyd het sy ’n hegte band gesmee met Anene se suster, Anne-Maré, wat haar insig in Anene se lewe en die maatskaplike probleme in arm gemeenskappe op die platteland gegee het.

Nadat sy, Hennie en Pedro die stuk sowat ses maande lank bewerk het, was hulle seker dit is reg om verhoog toe te gaan.

“Ons het van die begin af geweet ons wil Shaleen-Surtie Richards en Crystal-Donna Roberts hê,” sê Hennie.

Hy verduidelik ook dat dit ’n toneelstuk oor en vir vroue is, en dat Richard September daarom al die manlike karakters vertolk terwyl die aktrises elk net een rol het.

“Dit sou nog orraait wees as mens kon sê dit gaan beter sedert Anene se dood, maar sedertdien het net soveel aaklige goed gebeur.

“Dit toneelstuk gaan oor hoe ons as ’n nasie ons kinders in die steek laat.

“Die waarheid maak seer.”

Maar Rondomskrik is nie ’n mismoedige verhaal oor verlies en mislukkings nie, en gaan eintlik oor die invloed wat een sterk leiersfiguur in ’n kind se lewe kan hê.

Rachelle noem dié persoon ’n “uitkyk-antie”, iemand wat vir ’n kind kan uitkyk, sê waarvoor hy of sy moet pasop en kan waarsku wanneer ’n situasie gevaarlik is.

“Dit gaan oor die uitwerking van iemand soos Jasmien Adams. Daar is altyd mense wat vir jou wil uitkyk.”

Daarom beskryf Rachelle die stuk as ’n verhaal van “hopelik hoop”.

Want daar lê nog ’n lang pad vir Suid-Afrika voor, maar “ons moet die mense hoop gee dat daar mense is wat gered kan word”.

Rondomskrik word in Maart en April by die KKNK op die planke gebring.

Teks: Rachelle Greeff Regie: Hennie van Greunen

Vervaardigers: Pedro Kruger en Hennie van Greunen vir Wordsmith’s Theatre Factory

Verhoogbestuurder: Maryke van Jaarsveld

Met Shaleen Surtie-Richards, Lee-Ann van Rooi, Crystal-Donna Roberts en Richard September