Elf babas is in die Bloemhof-hospitaal opgeneem, terwyl 10 na groter hospitale in Klerksdorp en op Christiana oorgeplaas is, het ’n woordvoerder, Tebogo Lekgethwane, gesê.

Dis nadat 300 mense verlede week diarree opgedoen het weens waterbesoedeling wat die dorp sonder water gelaat het.

“Intussen het daar minder mense begin inkom,” het Tebogo gesê.

Tussen Woensdag en Vrydag het sowat 67 mense die hospitaal besoek vir die behandeling van diarree.

Maandag het hy gesê drie babas het aan diarree beswyk.

Die munisipaliteit Lekwa-Teemane het meer as ’n week gelede die watervoorsieningstelsel gesluit. Die nasionale departement van waterwese het Vrydag gesê die stelsel is skoongemaak en ontsmet, en dat die stelsel Donderdagaand weer beskikbaar was.

Maar inwoners het Vrydag gesê die water in krane is steeds bruin. Hulle is gevra om dit voor gebruik te kook. Monsters vir toetsing is geneem, maar die uitslag is nog onbekend.

Volgens Tebogo word gesondheidsopvoeding en -bewustheid in die gebied voortgesit.

“Ons glo die water is gesuiwer, maar die gesondheidsdepartement moedig inwoners steeds aan om die water te kook,” het hy gesê.

“Ons skat hulle sal dit die volgende twee weke nog moet doen. Intussen sal ons steeds watermonsters toets.”

Maandag het die kantoor van die premier, Supra Mahumapelo, gesê Lekwa-Teemane se munispale bestuurder, Andrew Makwapane, is ná die waterkrisis in Bloemhof geskors.

“Die skorsing volg op ’n vergadering waarin daar gekyk is na die uitdagings wat die munisipaliteit in die gesig staar en besoeke aan die gesinne wat oor die naweek ’n baba aan die dood afgestaan het,” het ’n woordvoerder, Lesiba Kgwele, in ’n verklaring gesê.

Hy het gesê ’n forensiese ondersoek is aan die gang en hulle verwag ’n voorlopige verslag.

’n Spesiale vergadering van die provinsiale uitvoerende raad gaan Dinsdag gehou word om die saak te bespreek.

“Daar gaan Sondagmiddag ’n terugvoersessie met die gemeenskap gehou word nadat ’n verklaring Vrydag gefinaliseer gaan word.”

- Sapa