Hulle is steeds onmiskenbaar Eden. Pure sexy boy band. Die ene lywe. Jeugdige energie wat die verhoë laat ratel en dreun.

Maar vir Johan VorsterJay du Plessis enPaulo Azevedo is jillende aanhangers en vroue wat hul onderklere na die verhoog slinger deesdae bysaak. Die manne het net oë vir hul skattige woelwaters. Dis die nuwe Eden hierdie – die paradys het intussen voller geraak en dis ’n baie vrolike plek.

Op Paulo se been bons sy seuntjie, Kai, wat op 11 Augustus verlede jaar gebore is. Hy dink terug aan hul heel eerste vertoning ’n dekade gelede. ‘‘Daar was omtrent 20 mense,’’ vertel hy. ‘‘Meer vriende as enigiets anders.”

Johan se oë bly dwaal na sy seun, Joshua (2), wat op die klimraam agter hom baljaar. Hy wil die storie daar los, maar Jay las blitsig by:  Johan het naar geword ’n halfuur voor hulle op die verhoog moes wees.

Jy kan jou sulke tye skaars nog indink, want dis 10 jaar later en Eden is steeds aan die gang – hulle het pas ’n CD uitgereik om dit te herdenk: Die titel is heel gepas Dekade.

Baie het in die 10 jaar verander. Die boys het voor hul aanhangers se oë mans geword: pa’s en sakemanne.

‘‘ ’n Mens kan seker sê ons is by ’n kruispad,’’ meen Jay. Sy seuntjie Samuel is in September gebore en lê rustig in ma Mia se arms en fopspeen suig. Hul ander spruit, die driejarige aidan, Mia se kind uit ’n vorige verhouding, kerjakker saam met Joshua op die klimraam.

‘‘Ons gesinne is nou die belangrikste ding in ons lewe,’’ sê Johan.

En ons is meer volwasse; ons lewe gaan nie meer net oor partytjies nie. Nou praat ons voor vertonings oor Huggies en die uitverkoping by Baby City.’’

Lees ons volledige artikel in die winter-uitgawe van HuisgenootTempo. Kyk ook ons gallery van ons fotosessie met die manne van Eden.