Daar was vele bespiegelinge en skinderstories oor wie volgende jaar die 84ste Oscar-toekennings sal aanbied.

Maar alle gerugte is gisteraand ter ruste gelê toe dieAkademie vir Rolprentkuns en Wetenskapaangekondig het dat die Oscar-benoemde akteur en komediant, Eddie Murphy, die toekennings op Sondag, 26 Februarie 2012 sal aanbied.

Dit sal die eerste keer wees wat dié kans Murphy te beurt val.

“Eddie is ‘n uitstekende komediant en sy vermoëns op die verhoog inspireer ander,” het Brett Ratner, vervaardiger van die toekenningsaand, gesê.

Vanjaar (2011) se Oscar-toekennings het vele kritiek ontvang nadat die jongelinge James Franco enAnne Hathaway nie daarin kon slaag om die kykers te vermaak nie.

Maar dit het Murphy nie vir ‘n oomblik benoud gemaak nie. “Dit is vir my ‘n groot eer om  in die skoene te staan van ander legendes voor my. Ek sien baie daarna uit,” het Murphy Dinsdagaand gesê.

Hy is in 2006 vir ‘n Oscar benoem vir sy rol in die film “Dreamgirls”.

Volg Huisgenoot op Twitter.