“Hierdie uitbraak bewys weer dat virusse nie grense gehoorsaam nie.”

Die spesie van die Ebola-virus wat reeds meer as 4 000 lewens in Wes-Afrika geëis het, het almal verras toe dit duisende kilometers van sy historiese broeiplek uitbreek.

Volgens kenners bewys dit presies hoe min ons van die dodelike virus weet.

“Voorheen was ons onder die indruk dat hierdie probleem hoofsaaklik tot Sentraal-Afrika beperk sou wees. Dit is duidelik nie die geval nie,” het Andrew Easton, ’n virologiedosent aan die Warwick-universiteit, aan AFP gesê.

“Hierdie uitbraak bewys weer dat virusse nie grense gehoorsaam nie.”

Voor die uitbraak in Wes-Afrika het die Zaïre-spesie van die Ebola-virus sedert dit die eerste keer in 1976 teëgekom is net minder as 1 100 lewens geëis, almal in die Demokratiese Republiek van die Kongo, Kongo en Gaboen.

Zaïre is die dodelikste van die vier Afrika-spesies van die virus. ’n Vyfde, die Reston-Ebola-virus, is in Asië opgemerk. Dit is steeds onbekend hoe die virus na die mens oorgedra is.

Vrugtevlermuise is vermoedelik die virus se natuurlike reservoir – dit maak hulle nie siek nie, maar kan ape en klein wildsbokke, selfs mense, aantas. Mense word aan die virus blootgestel as hulle besmette diere doodmaak en slag, ’n algemene gebruik in dele van Wes-Afrika se tropiese woude.

Dit is waarskynlik dat ’n enkele mens verlede Desember die virus so opgedoen en dit toe in Guinee, Liberië en Sierra Leone oorgedra het.

Vlermuise

Maar hoekom was ’n “virus van Sentraal-Afrika” in Wes-Afrika? Een teorie is dat ’n migrerende vlermuis of kolonie vlermuise dit oorgedra het – dit kan duisende kilometers vlieg in die soeke na seisoenale vrugte.

Dit is ook moontlik dat vlermuise dit mettertyd deur die woude in Afrika ongemerk weswaarts gedra het. ’n Ander teorie is dat iemand die virus in Sentraal-Afrika opgedoen en dit weswaarts versprei het.

“Maar dit is onwaarskynlik, want die uitbraak was in ’n baie afgeleë gebied. Die plaaslike bevolking het bykans geen toegang tot vervoer oor die afstande wat vereis word nie en oordrag oor land is beslis onwaarskynlik ’n mens kyk hoe vinnig die siekte versprei,” het Andrew gesê.

In Wes-Afrika kon mense die virus regstreeks van vlermuise gekry het omdat hulle dit eet en ook omdat hulle in grotte, op vrugte of onder bome kontak het met die diere se ontlasting. ’n Ander moontlikheid is dat die virus reeds jare gelede na Wes-Afrika gedra is en eenvoudig gewag het vir toestande wat reg is vir ’n uitbraak onder mense. Dit was ook moontlik so lank in Wes-Afrika as wat dit in Sentraal-Afrika was, en het net gewag vir mense om nader te trek. Die Europese sentrum vir siektevoorkoming en -beheer het gesê die redes vir die uitbraak word “nog nie ten volle begryp nie”, maar “veranderinge in grondgebruik en indringing in voorheen afgeleë gebiede van die reënwoud het mense in aanraking gebring met potensiële reservoirs; dit kon ’n rol gespeel het,” het die agentskap per e-pos aan AFP gesê.

'Jy het die regte toestande nodig.'

“Dit is alles suiwer toeval,” sê Jonathan Ball, ’n dosent in molekulêre virologie aan die Universiteit van Nottingham. “Jy het die regte toestande nodig: ’n besmette dierebron en mense wat dan in aanraking kom met daardie bron.”

’n Genetiese studie wat in September gepubliseer is, het gesê die virus wat vir die uitbraak in Wes-Afrika verantwoordelik is, is ’n lid van die Zaïre-familie en kon sowat 10 jaar gelede uit die virus in Sentraal-Afrika ontwikkel het. Andrew het gesê die Zaïre-spesie is “ongelooflik soortgelyk” aan die een in Sentraal-Afrika.

“Die voorkoms van ’n virus wat blykbaar gereis het, toon dat ons kennis oor die ‘natuurlike geskiedenis’ van die virus gebrekkig is.”

Ten spyte van al die onbekende faktore blyk dit die Zaïre-spesie is meer wydverspreid en beweegliker as voorheen geglo is.

“In studies wat in 2010 en 2012 gepubliseer is, is teenliggaampies vir die Zaïre-spesie gevind in die bloed van ’n sekere vrugtevlermuisspesie in Ghana,” het die viroloog Olivier Reynard van Frankryk se navorsingsentrum vir aansteeklike siektes aan AFP gesê.

Sy “sirkulasiesone is dalk baie wyer as wat ons gedink het”.

’n Studie wat verlede maand gepubliseer is, toon meer as 22 miljoen mense woon in dele van Afrika waar toestande heers wat dit moontlik maak vir die Ebola-virus om van diere na mense te beweeg.

“Afrika-lande moet ’n plan gereed kry vir hoe hulle hierdie virus (en soortgelyke virusse) gaan hanteer,” het Andrew gesê, en het gesê ryk lande moet hulp verleen.

- Sapa