“Ek dink ons het baie goed gevorder, maar ons is aan die begin van die reis. Ons doen nou die eerste studies op mense om te bepaal of die entstowwe veilig is,” het dr. David Wood van die WGO aan verslaggewers in Pretoria gesê.

“(As dit veilig is), kan ons dit op ’n groter skaal in die geaffekteerde lande en in van die nie-geaffekteerde lande begin gebruik. Dit is nuwe entstowwe. Ons hoop dit werk.”

Hy het gesê van Januarie kan die nuwe entstowwe in die lande in Wes-Afrika gebruik word wat die swaarste getref is. Die internasionale organisasie het finansiële beperkings, maar kry hulp van skenkers.

“Ons moet seker maak ons koördineer met al die vennote wat hulp aanbied. Ons het ’n geweldige reaksie van die internasionale gemeenskap gesien.”

Hy het gesê Ebola is ’n groot kwessie vir openbare gesondheid.

“Dit is groter as wat ons met Ears (ernstige akute respiratoriese sindroom) gesien het. Die virus is dodeliker as wat ons met die griep-pandemie gesien het.

“Die uitdaging is ingewikkelder as wat dit met polio was. Dit is die grootste uitdaging vir openbare gesondheid wat ons, die internasionale gemeenskap, in die gesig gestaar het,” het David gesê.

Volgens data van die WGO het amper 5 000 mense al weens die virus omgekom.