Die man van ’n Spaanse verpleegster met Ebola is ook in afsondering geplaas, het Spaanse media mediese bronne Dinsdag aangehaal.

Die 40-jarige verpleegster, wie se identiteit geheim gehou word, was deel van ’n mediese span van 30 wat twee Spaanse sendelinge behandel het wat die virus in Liberië en Sierra Leone opgedoen het.

Sy het een pasiënt, ene Manuel Garcia Viejo, se kamer twee keer tydens sy behandeling besoek, berig die Spaanse dagblad El Pais. Manuel is op 25 September oorlede.

Die verpleegster het op 30 September begin siek voel, maar het steeds nie kliniese simptome van die siekte (byvoorbeeld ’n koors) getoon nie. Sy is Sondag hospitaal toe, en staatgesondheidsamptenare het haar diagnose Maandag bekendgemaak.

Die dae tussen 30 September en 6 Oktober sal die fokus wees van ’n poging om enige moontlike aansteking op te spoor, want Ebola kan net aangesteek word by iemand wat reeds simptome van die siekte toon.

Volgens Fernando Simon, ’n noodkoördineerder by die Spaanse gesondheidsministerie, ondersoek die owerheid die moontlikheid van nog besmetting van die mediese span wat die sendelinge versorg het.

Hulle is ook bekommerd oor die gesondheid van die verpleegster se man, wat ná haar amptelike diagnose die meeste kontak met haar gehad het.

Die Madridse verpleegster is die eerste bevestigde geval van mens-tot-mens-oordrag van die siekte in Europa.