Die wêreld se dodelikste Ebola-epidemie het nou byna 5 000 mense in Wes-Afrika aangesteek en sowat die helfte is reeds oorlede, sê die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO).

Die agentskap sê altesaam 4 985 is in vyf lande in die gebied aangesteek, en 2 461 van hulle is oorlede.

In die drie lande wat die swaarste getref word, Guinee, Liberië en Sierra Leone, is byna die helfte van die gevalle in die afgelope drie weke aangeteken, het die WGO gesê.

Hier is die jongste syfers van die WGO:

  • In Guinee, waar die uitbreking vroeg vanjaar begin het, het Ebola teen 13 September 595 lewens geëis, of amper twee derdes van die 936 gevalle.
  • Net meer as ’n derde van dié gevalle in die 21 dae tot 13 September aangemeld.
  • In Liberië, wat die swaarste deurloop, is 1 296 mense reeds teen 9 September oorlede, meer as die helfte van die 2 407 mense wat aangesteek is.
  • ’n Volle 57 persent (1 383) van dié gevalle is aangemeld in die drie weke tot 9 September.
  • In Sierra Leone is 562 mense teen 13 September aan Ebola oorlede, meer as ’n derde van die 1 620 gevalle.
  • Sowat 40 persent van dié gevalle is in die voorafgaande 21 dae aangemeld.
  • Intussen is agt Ebola-sterftes teen 13 September in Nigerië aangemeld sedert die siekte die land getref het nadat ’n amptenaar van die Liberiese ministerie van finansies op 25 Julie in Lagos beswyk het.
  • Dit is 38 persent van die 21 gevalle. Ses van dié gevalle is in die afgelope drie weke aangemeld.
  • Senegal se enigste bevestigde Ebola-geval – ’n Guinese student wat die grens oorgesteek het net voor dit op 21 Augustus gesluit is – het herstel, maar 42 dae moet verloop vandat die geval aangeteken word voor die land oordragvry verklaar word.
  • In die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK) kom intussen ’n afsonderlike Ebola-uitbreking voor wat teen 14 September uit die 66 gevalle 39 lewens (onder wie gesondheidswerkers) geëis het.
  • Sover bekend, is daar is vyf afsonderlike soorte Ebola; die uitbreking in Wes-Afrika is van die Zaïre-soort.
  • Dié soort het in 1976 in die DRK die wêreld se eerste bekende Ebola-uitbreking veroorsaak en 280 lewens geëis.

Die huidige uitbreking in die DRK kom blykbaar van twee verskillende soorte, Zaïre en Soedan, wat in 1976 in die Soedan voorgekom het.