Dis die première in Los Angeles van Invictus. In ’n limousine sit sewe jong mans. Hulle hou langs die rooi tapyt stil, en met die oopswaai van die deure is dit net kameras wat flits.

Dan klink ’n bekende wysie op. Dis hul stemme! Die woorde van die liedjie 9 000 Days bring ’n skielike kalmte.

Die liedjie is van die klankbaan van Invictus, trefferfliek oor Madiba en die Wêreldbeker-rugby-eindstryd van 1995, en dié einste Gautengers sing nie minder nie as nege van die fliek se 18 liedjies.

Dan begelei hul verteenwoordiger van Warner Bros. Pictures hulle na die joernaliste. Klaar gesels, stap Emile Welman (24), Eduard Janse van Rensburg (27), Ruan van Zyl (23), Shane Smit (21), Ernie Bates (26), Valentino Ponsonby (23) en Riaan Weyers (23) die Academy of Motion Picture Arts and Sciences-sentrum in Beverly Hills binne agter die regisseur van Invictus, Clint Eastwood, aan.

As jy ’n jaar gelede vir hulle gesê het hulle sal hulle op ’n klankbaan en op ’n rooi tapyt saam met Oscar-wenners soos Matt Damon en Morgan Freeman bevind, sou hulle jou uitgelag het. Hulle was immers op die punt om hul musiekdrome prys te gee toe Clint se vrou, Dina, verlede jaar hul Killer Queen-konsert in Kaapstad bygewoon het.

Lees in die volledige artikel in Huisgenoot van 25 Februarie oor die dag toe hulle ‘‘Dirty Harry’’ se luukse Mercedes S65 AMG van sowat R3 miljoen afgeskryf het.