Elkeen het seker sy eie antwoord, tot ’n mens regtig in so ’n situasie beland.

Dit is presies wat ’n man van die dorpie Blenheim in Nieu-Seeland oorgekom het.

Die man, wat nie sy naam bekend wou maak nie, het op ’n sak met byna R40 000 afgekom. Maar hy is nie sommer enige man nie; hy ondergaan rehabilitasie weens dwelmverslawing.

Soveel geld in die hande van ’n dwelmverslaafde? ’n Mens sou dink dit kan net op ’n ramp afstuur.

“Ek onthou ek het in die sak geloer en gedink wow, dit is baie geld,” het die man aan ’n plaaslike koerant vertel.

“Maar ek het geweet ek moet die regte ding doen,” het hy bygevoeg.

Hoewel hy sukkel om die dwelmduiwel uit hom uit te kry en op ’n staatstoelaag oorleef, het hy tog besluit om die sak met al die geld aan die Blenheim-polisie te oorhandig.

Die noodlot was egter nog nie klaar met dié eerlike Nieu-Seelander nie. Op die presiese oomblik dat hy in die polisiekantoor besig was om ’n verklaring af te lê, het ’n vrou ingestap op soek na hulp om haar verlore sak – met R40 000 daarin – op te spoor.

Sy het dit tussen haar werkplek en die bank verloor.

“Sy was baie bly. Sy kon nie glo ek het die sak ingegee nie,” het die man ná die tyd gesê.

“Dit was ’n moeilike besluit en ek wou die geld hou, maar ek is besig om van my verslawing te herstel, en in rehabilitasie leer hulle jou eerlikheid.”

Die eienaar van die sak het die man ’n beloning van R600 gegee. Hy gaan dit gebruik om sy hond te laat registreer.

Bronne: News.com.au; Stuff.co.nz