Die koning van pop is in 2009 dood aan ’n oordosis Propofol. ’n Forensiese toksikoloog wat getuig het in sy gesin se hofsaak van R360 biljoen in Los Angeles teen die konsertpromotor AEG Live, vir wie hulle van nalatigheid beskuldig, het gesê die hoeveelheid Propofol wat gevind is, “strook met hoeveelhede wat as verdowing met groot operasies gebruik word”.

Michael, wie se dokter, Conrad Murray, aan manslag skuldig bevind is, is ook positief getoets vir die verdowingsmiddel lidocaine en die kalmmeermiddels lorazepam, midazolam en diazepam, berig die New York Daily News.

Die Jackson-gesin se prokureur, Michael Koskoff, wou by Dan Anderson van die lykskouerskantoor in die distrik Los Angeles weet: “Wat het jy gedink toe jy by ondersoekbeamptes hoor daar is Propofol in die huis gevind?”

Hy het geantwoord: “Dis baie ongewoon dat Propofol as bewyse versamel word. Dit het vir my as toksikoloog die gevaarligte laat flikker. Dit is uiters problematies as dit buite ’n hospitaal-omgewing gevind word.”

Michael het egter nie alkohol of dagga in sy liggaam gehad het nie.

Intussen is Sharon Osbourne gevra om te getuig nadat sy onthul het sy het dalk bewyse wat Katherine se bewerings kan staaf dat die promotors, wat verantwoordelik was vir sy 50 beplande konserte in Londen nalatig was toe hulle Conrad gevra het om na die Thriller-sanger se mediese sorg om te sien.

Sharon (60) het verlede maand op haar geselsprogram gesê: “Daar was mense wat by daardie maatskappy (AEG Live) gewerk het wat geweet het Michael is nie gesond nie en hulle was min geskeel, want dit was net besigheid. En of hy opgetree het of nie, hulle sou in elk geval geld maak. Ek het met mense by daardie maatskappy gepraat wat dit vir my gesê het. As die Jackson-gesin wil hê ek moet hof toe gaan, sal ek sê wie dit vir my gesê het.”