Die polisie is na die kitskosrestaurant in Dundee, Michigan, ontbied nadat ’n oupa op die daggapyp afgekom het in die kospakkie wat hy vir sy kleinseun gekoop het. ’n Werknemer (23) het later erken hy het die dwelms in die maaltyd weggesteek om dit veilig te bewaar terwyl hy gewerk het.

David Uhl van die polisie in Dundee het aan die nuusdiens CBS 5 gesê: “Die oupa het die maaltyd wat hy by Burger King gekoop het aan sy vierjarige kleinseun gegee. Toe hulle dit oopmaak, was daar ’n pyp in wat met dagga gestop was.

“Die oupa het verdagte mense in die parkeerruimte met die werknemer sien praat. Hy het ’n beskrywing van die motor en die registrasienommer neergeskryf en kon dit vir die polisie gee.”