Die akteur (31), wat sedert sy tienerjare teen dwelms geveg het en op 19 die eerste keer in ’n rehabilitasiesentrum opgeneem is, is op 13 Julie aan ’n oordosis dwelms en alkohol oorlede. In ’n spesiale Glee-episode, wat op 10 Oktober uitgesaai sal word, sterf Cory se karakter, Finn Hudson, ook.

Kevin Reilly, die netwerk Fox se vermaaklikheidshoof, het by die Summer Television Critics Association-toer aan verslaggewers gesê: “Op 10 Oktober word die episode uitgesaai waarin Cory se karakter sterf. Dit sal handel oor dwelmverslawing en die omstandighede waarin Cory dood is.”

Op ’n vraag of Finn aan ’n oordosis gaan sterf, het hy gesê: “Nee. Ek kan dit glad nie bevestig nie.”

Ryan Murphy, ’n medeskepper van die reeks, sal bewusmakingsboodskappe saam met die akteurs verfilm en hulle sal in die episode oor dwelmverslawing praat.

Hoewel Cory ná ’n terugslag in Maart in ’n rehabilitasiesentrum was, was sy dood vir Kevin ’n groot skok.

Hy het gesê: “Hy was nie ’n probleem nie. Dit was ’n ongeluk wat met iemand gebeur het wat met ’n verslawing gesukkel het.”

Hy het ook die akteur se meisie en medester, Lea Michele (26), geprys omdat sy ná Cory se dood ’n “steunpilaar” was.

“Sy was die eerste een wat gesê het sy wil teruggaan werk toe,” het hy gesê. Hy het ook bevestig die geld wat die episode se musiekverkope inbring, sal gebruik word om ’n fonds ter ere van Cory te stig.