Elke hond kry sy dag, party dalk net gouer as wat hulle verwag het.

Al was William Lamberson van die kusdorp Port St Lucie in Florida besig met onderduimse dinge, kan mens nie help om hom effe te bejammer nie.

Dié 29-jarige was onlangs in die bui vir ’n bietjie dagga. In sy haas om sy verskaffer in die hande te kry, stuur hy ’n boodskap aan ’n verkeerde nommer.

Soos die noodlot dit wou gehad het, SMS William toe al die tyd niemand anders nie as ’n gesoute polisieman, kaptein Brian Bergen.

Nie net is Brian ’n polisieman nie, hy staan ook aan die hoof van die plaaslike distrik se dwelmeenheid.

William val in sy boodskappe aan sy “verskaffer” sommer met die deur in die huis en vra “het jy enige groen” met verwysing na die dagga. William het geglo die man is iemand wat hy vroeër by 'n 7-Eleven ontmoet het.

Aanvanklik oorbluf, het Brian besluit om saam te speel en hom as ’n dwelmverskaffer voor te gee.

In ’n rits teksboodskappe, wat die polisiestasie intussen op hul Facebookblad gedeel het, kan gesien word hoe Brian eers saamspeel en daarna die bordjies verhang en vir William vra of hy nie vir hom kokaïen het nie.

Eensklaps word William in ’n dwelmverskaffer omskep en verseker hy Brian hy ken net die regte persoon om wit poeier te verskaf waarop daar nog nie “getrap” is nie.

Toe William ’n later by die afgesproke plek opdaag, was sy vriend van 7-Eleven nêrens te vinde nie. In stede het ’n paar offisiere van die dwelmeenheid hom ingewag.

Hy is gearresteer en aangekla van die besit van dwelms met die doel om dit te verkoop.

Bronne: Daily Mail; News.com.au