Djakarta. Luidens ’n plan wat die agentskap teen narkotika ingedien het, kan krokodille dalk binnekort gebruik word om Indonesiese dwelmgevangenes op te pas.

 

Volgens die woordvoerder, Slamet Pribadi, beoog Budi Waseso, hoof van die agentskap, om ’n eilandtronk te skep. Krokodille sal om die eiland woon, en dit sal dwelmbase weghou van veroordeelde koeriers en gebruikers. “Budi het voorgestel dat ’n tronk op ’n afgeleë eiland gebou en deur krokodille opgepas moet word as die wet nie daarin slaag om misdadigers af te skrik nie,” het Slamet gesê. “As hulle dan probeer ontsnap, sal hulle opgevreet word.”
"Die land het vanjaar 14 gevonnisde dwelmsmokkelaars tereggestel"

Om te wys hoe ernstig hy oor die saak is, het Budi drie provinsies besoek om die aggressiefste krokodille te soek. Hy maak kommer oor die gevangenes se regte af.

“Dit is nie ’n skending van menseregte as die krokodille die doodmaakwerk doen nie,” het hy in ’n skynbaar lighartige stemtoon opgemerk.

Indonesië is onverbiddelik wat dwelmsmokkelary betref en voer aan dwelms het gelei tot ’n noodtoestand in die land. Die land het vanjaar 14 gevonnisde dwelmsmokkelaars tereggestel en internasionale druk vir begenadiging geïgnoreer.

Tog bly dwelms volop in Indonesiese tronke, en soms is bewaarders vasgetrek wat dwelmtransaksies help beklink het waarby gevangenes betrokke was.

Volgens die departement van justisie wag minstens 121 mense op teregstelling in Indonesië, en die meeste van hulle is weens dwelmverwante misdade gevonnis.

Bron: News24