Toe Hansa Wannenburg by haar seun se huis aangaan en oudergewoonte sy laaie regpak, het sy yskoud geword.

In Pedrie se bedkassie het sy op ’n strooitjie afgekom – en dadelik besef haar Blou Bul-seun snuif kokaïen. Hy was toe oorsee, en met sy terugkeer het sy broer, Callie, hom ’n dik brief van sy ouers in die hand gestop.

Hierin het Hansa en Carl geskryf hoe bekommerd hulle oor hom is, maar moeite gedoen om hom nie te verwyt nie.

Die verhaal van Pedrie se dwelmmisbruik wat pas in die tydskrif Finesse gepubliseer is, het die land opnuut laat regop sit en wonder: Hoeveel van ons topsportlui gebruik nie nog dwelms nie? En hoekom swig mense vir wie fiksheid en gesondheid so belangrik is, voor so ’n vernietigende gewoonte?

Een mens wat maar te goed weet waardeur Pedrie is, is sy Blou Bul-spanmaat en jare lange vriend Joost van der Westhuizen. ’n Video waarin Joost die dwelm Cat gebruik, het verlede jaar sy loopbaan as sportaanbieder op televisie en byna ook sy huwelik vernietig. ‘‘Ek het op die harde manier my les geleer. Ek hoop dat ander uit my foute sal leer,’’ sê die Wêreldbekerheld aan Huisgenoot oor Pedrie se dwelmgebruik.

“Dis waarom ek my boek geskryf het. Ek het gesê as my storie net een mens help, sal dit alles die moeite werd wees. Maar sedertdien het dosyne mense my al kom bedank dat dit hulle van die verkeerde pad af gehelp het.’’

Die eerste was ’n ma wat vir hom kom sê het haar seun is ook ’n bedrewe sportman wat met dwelms deurmekaar geraak het. Maar nadat hy Joost se boek gelees het, het hy besluit om daarvan weg te bly.

‘‘Ek het net gister nog 24 e-posse gekry van mense vir wie my boek iets beteken het. Dit maak dit alles die moeite werd,’’ sê Joost, wat deesdae voltyds in ’n kantoor werk en hard besig is om sy lewe te herbou.

Die drankkultuur in rugby is een van talle faktore wat die spelers laat struikel, sê prof. Tim Noakes.

Lees wat kenners sê oor hierdie probleem in Huisgenoot van 21 Januarie.

Deel jou mening hieroor in die kommentaarveld hieronder.