Dit klink soos ’n dwelm en ja, dit is ’n dwelm.

Die sogenaamde Strawberry Quick kos net R5 en bevat ’n mengsel van metamfetamien, suiker, koskleursel en geurmiddels en kinders van 10 tot 18 jaar raak daaraan verslaaf.

Geen stadslegende

“Strawberry Quick het sy naam gekry by ’n stadslegende wat in Johannesburg ’n werklikheid geword het,” het Quintin van Kerken van die Suid-Afrikaanse Alliansie Teen Dwelms aan Health24 gesê. Die oorspronklike stadslegende van gegeurde tik wat by skole uitgedeel en as lekkers aangesien word, het moontlik in Amerika ontstaan en is eers as ’n “poets” beskou. Maar sake het intussen verander. Quintin verduidelik onskuldige leerders word aanvanklik oortuig hulle koop lekkers en wanneer hulle verslaaf is, word suiwer tik vir hulle aangebied.

Die dwelm kom in verskeie vorms voor; van ’n fyn poeier tot groter kristalle.

Die dwelm kom in verskeie vorms voor; van ’n fyn poeier tot groter kristalle. Dit kan gesnuif, per mond ingeneem of gerook word.

Hy sê in die meeste gevalle verkoop handelaars wat hulle as lekkergoedsmouse voordoen die strooitjies buite of naby laer- en hoërskole in Johannesburg.

‘Dis waar die wins lê’

Hy sê die pryse verskil drasties. “Party handelaars gee dit die eerste paar keer gratis weg, terwyl ander dit vir van R5 tot R30 verkoop.”

Dit kom alles daarop neer dat die handelaar die kinders aan tik verslaaf wil kry, sê hy. “Dis eintlik waar die wins lê.”

Quintin sê daar was ook verspreide en onbevestigde berigte van Strawberry Quick in KwaZulu-Natal en twee bevestigde gevalle in die Wes-Kaap.

Ouers word gewaarsku om waaksaam te wees en dadelik hulp te kry as hul kind ’n slagoffer van dwelmmisbruik word.

Die tekens van die misbruik van tik is:

  • Verlies aan eetlus en gewigsverlies
  • Aggressie
  • Wye pupille
  • Vinnige spraak
  • Angstigheid
  • Psigotiese simptome (hallusinasies en waan)
  • Hoofpyn
  • Oordrewe selfvertroue
  • Slapeloosheid
  • Ander klere, vriende en taalgebruik