Die akteur Dwayne Johnson het $1 500 (sowat R21 000) geskenk om te help om vir ’n operasie te betaal wat ’n hondjie se lewe kan red.

Die vier maande oue dier, Dwayne ‘The Rock’ Johnson, is in November by die North Central Shelter in Los Angeles gelos met ’n dik stuk metaaldraad om sy bek vasgemaak.

Versorgers by die hondehawe moes ’n boutsnyer gebruik om die draad te verwyder en die wond aan sy bek toewerk. Kort daarna is ’n lewensgevaarlike hartkwaal egter by klein Dwayne gediagnoseer, en nou moet hy dringend geopereer word.

Die aktrise Michelle Trachtenberg het gehelp om bewustheid aan te wakker en die geld wat vir die brakkie se operasie benodig word, in te samel deur middel van die massafinansieringswebtuiste GoFundMe.com.

Dinsdag het een van haar inskrywings op Twitter die ster van Furious 7 se aandag getrek. “Hierdie hondjie, wat na @TheRock genoem is, is gemartel en aan sy lot oorgelaat!” lui haar inskrywing, wat ook ’n foto van die wolhaarhondjie insluit. “Hy het ons hulp nodig vir ’n operasie wat sy lewe kan red.”

Hy het sy belofte gestand gedoen en gister die skenking gemaak.

Dwayne het in reaksie op haar twiet geskryf: “Dit is moeilik om hiervan te lees. Arme hondjie, aan sy lot oorgelaat, met ’n draad om sy bek gedraai. Ek sal help. Sterkte, hondjie.”

Hy het sy belofte gestand gedoen en gister die skenking gemaak om te help om vir die operasie te betaal.

“Baie dankie vir jou steun, @The Rock,” was Michelle se antwoord nadat sy gehoor het van die skenking. “Ons gaan hierdie vegtertjie se lewe red!”

Die massafinansieringswebtuiste, wat opgestel is deur amptenare by Saving SPOT!, ’n reddingsentrum vir honde in Los Angeles, wil $5 000 (R70 000) vir die operasie insamel. Dit word op 18 Desember uitgevoer.

Die rolprentster Dwayne is bekend vir sy liefde vir klein hondjies. Vroeg in September vanjaar moes hy, ten volle geklee, in sy swembad duik om sy Franse bulhond, Brutus, te red nadat sy vriendjie ingeval en gesink het.

Brutus het die ongeluk oorleef, maar is later dood nadat hy ’n giftige sampioen geëet het.

“Ons sal jou altyd liefhê, Brutus,” het die akteur op Instagram geskryf in sy eerbetoning aan sy gestorwe troeteldier. “Jy sal vir altyd my hoofmannetjie en rowwe speelmaat, Brute, wees.”

© Cover Media