Drama.

Met Jim Sturgess, Ed Harris en Colin Farrell.

Regie: Peter Weir.

2010. 127 min.

13.

Ons dink: 4/5

Hierdie uitmergelende drama oor ’n groep ontsnaptes uit ’n Russiese strafkamp speel in die Tweede Wêreldoorlog af. Die groep moet 6 500 km ver oor Siberië en die Gobi-woestyn stap na Indië – en vryheid.

Hul leier is Janusz (Sturgess), ’n edel Pool wat verkeerdelik van spioe­nasie beskuldig is.

In die groep is onder meer ’n Russiese bendelid vol tatoes (Farrell) wat van sy medegevangenes wil wegkom; Smith, ’n gryskop Amerikaanse ingenieur (Harris), en die tienermeisie Irina (Saoirse Ronan), ’n Poolse weeskind wat langs die pad by hulle aansluit.

Dit is gegrond op Slavomir Rawicz se memoires, The Long Walk, van 1956, wat sedertdien afgemaak is as óf fiksie óf ’n sameflansing van ander gevangenes se oorlewingsverhale.

Tog is dit ’n boeiende fliek, verfrissend vry van die oordrewe heldedade wat dikwels sulke flieks kenmerk.

Dit fokus eerder op die dikwels versweë band tussen die mans en hul daaglikse oorlewingstryd in die strafste toestande op aarde.

Volg Huisgenoot op Twitter.