Aksie. 2010.

117 minute.

Met Mel Gibson, Ray Winstone en Danny Huston.

Regie: Martin Campbell.

16TG.

Ons dink: 3/5

Mel, die aksieheld, keer in al sy glorie na die silwerdoek terug, maar dit kan ook moontlik die laaste keer wees dat enigiemand hom ernstig  as akteur gaan opneem – dis nou ná al die bewerings van huishoudelike geweld en idiotiese uitlatings wat gereeld aan hom toegedig word.

Sy karakter in hierdie prent herinner aan sy Lethal Weapon-flieks, met dieselfde spitsvondige sêgoed en rateltaaigeit, al hyg hy ’n bietjie meer ná elke gevegstoneel.

Hy speel ’n speurder, Thomas Craven, wie se 24-jarige aktivis-dogter, Emma, wreed voor hom doodgeskiet word.

’n Lok van haar hare toets later positief vir radio-aktiwiteit.

En Thomas word op sy speur- en wraaktog ál dieper ingekatrol by ’n web waaruit hy hom moeilik gaan loswikkel.

Die prent van byna twee uur lank het ’n lang asem, maar genoeg onverwagse skoktonele maak elke minuut die moeite werd.

Bonus: onderhoude met die regisseur en akteurs, uitgesnyde tonele.