Dustin Hoffman is onlangs vir kanker behandel, maar dit gaan goed met hom ná ’n operasie.

Die Oscar-wenner (75) is geopereer nadat dokters die siekte in ’n vroeë stadium ontdek het. Dustin sal voortaan voorkomende behandeling ontvang om die moontlikheid te verminder dat die kanker terugkeer.

’n Woordvoerder vir die akteur en regisseur het die inligting aan People.com bevestig en bygevoeg: “Dis vroeg ontdek en hy het ’n operasie ondergaan. Dustin voel goed en dit gaan goed met sy gesondheid.”

Die woordvoerder het geweier om nog inligting verskaf oor die soort kanker wat by Dustin gediagnoseer is.

Die pa van ses is al 23 jaar lank met sy tweede vrou, Lisa Hoffman (58), getroud.

Dustin het onlangs klaargemaak met werk aan Jon Favreau (46) se Chef, teenoor Robert Downey jr. (48) en Scarlett Johansson (28), en sal later vanjaar met die verfilming begin van Roald Dahl se Esio Trot teenoor Judi Dench (78).

Hy sal ook verskyn in die rolprent Boys Choir, waarvan die produksie einde vanjaar begin.