’n Leerling aan die Hoër Seunskool Westville in KwaZulu-Natal is stabiel nadat ’n elektriese skok hom Maandag in ’n kritieke toestand gelaat het.

Nick Scott (15) is Maandagmiddag na die St Augustine’s Hospitaal in Durban gebring met erge brandwonde op sy bors en hande. Hy is na bewering geskok tydens die hantering van ’n transformatoragtige toestel.

Paramedici van ER24 was binne minute by die skool, waar hulle die seun in ’n klaskamer aangetref het.

“By nadere ondersoek het paramedici ernstige brandwonde op sy bors en hande gevind. Hulle het lewensondersteuningsbehandeling toegepas voordat hy in ’n kritieke toestand na die hospitaal geneem is vir verdere mediese behandeling,” het Russel Meiring, woordvoerder van ER24, aan huisgenoot.com gesê.

Russel het ook bevestig dat Nick se toestand intussen gestabiliseer het.

Trevor Hall, die skoolhoof, het bevestig dat Nick ’n graad 10-leerling by die skool is. “Sy beserings is tydens pouse opgedoen terwyl hy besig was met ’n visuelekuns-projek,” het Trevor gesê.

“Ons, dit is Nick, sy ouers en die skool, wil die publiek bedank vir hul ondersteuning en boodskappe. Nick sterk tans aan in die hoësorgeenheid van die St Augustine’s Hospitaal en hoewel hy ernstige brandwonde opgedoen het, is hy in ’n stabiele toestand. Hy het weer sy humorsin terug, wat ’n teken is dat hy goed aansterk”.