Die egpaar wat in die vroeë oggendure in hul huis deur vyf mans met pangas, messe en skroewedraaiers oorval is, kry berading, maar sien nog nie kans om terug te keer na hul woonplek nie.

“Dis moeilik. Hulle bly nou by ons tot hulle weer op hul voete kom,” sê David Rattery, Lauren Glutz se pa.

Lauren en haar man, Craig Glutz, het vyf dae tevore hul woning op die luukse Loxley-landgoed in Sheffield Beach noord van Durban betrek toe hulle wakker word met die vyf mans wat om hul bed staan. Hul nege maande oue babadogtertjie het in ’n ander kamer geslaap.

David vertel dat Craig en Lauren met plastiese kabels vasgebind is voor hulle aangerand is. Lauren is ses keer met die plat kant van ’n panga geslaan toe sy na die baba se kamer probeer kruip.

Craig se linkerpols en vingers is gesny en hy moes geopereer word sodat die ligamente en senuwees geheg kon word.

Lauren het haar pa omstreeks halftwee die nag gebel om hulle te kom bystaan. Hulle woon op ’n plaas sowat 80 km van Sheffield Beach af.

“Hulle is nog baie getraumatiseerd,” sê David.

Die inbrekers het onder meer met al die rekenaartoerusting in die huis weggekom asook hardeskywe waarop foto’s van troues geberg is wat Lauren, 'n beroepsfotograaf, geneem het.

“Dis baie moeilik vir die bruide om te aanvaar," sê David, "want nou is daar geen foto’s van hul troue nie.”

David sê hulle het ongelooflik baie reaksie gekry van mense wat van die aanval gehoor het. “Ek dink mense is bang. Jy kan nie ’n valse gevoel van veiligheid hê wanneer jy in ’n veiligheidskompleks woon nie.”