’n 24-jarige man is in hegtenis geneem vir die besit van ’n menskop, wat hy in ’n rugsak saam met hom gedra het.

Luidens berigte het hy ’n sangoma gekontak met die doel om die kop aan hom te verkoop.

Volgens die Daily News sou die twee vroeër Vrydagoggend in ’n parkeerterrein ontmoet.

Die kop is in plastieksakke binne-in die rugsak gevind. Na bewering is die kop in die vroeë oggendure afgesny. Dit is onseker hoeveel die “kophandelaar” vir die grieselrige item wou hê.

Die sangoma is ook op die toneel in hegtenis geneem.

Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie maak tot 80 persent van Afrika se inwoners gebruik van sangomas.

Die polisie het 'n mens se kop en tong in 'n sangoma by Clocolan se huis gevind.

In Julie vanjaar is 'n 32-jarige man van Lesotho naby Bloemfontein in hegtenis geneem vir die besit van menslike liggaamsdele. Die polisie het 'n mens se kop en tong in 'n sangoma se huis in Clocolan gevind.

Forensiese toetse is op die liggaamsdele uitgevoer om te bepaal of dit aan die oorskot van 'n koplose liggaam behoort wat by 'n nabygeleë begraafplaas opgegrawe is.

Lee se kop is later in 'n vlak graf in Swartz se agterplaas gevind.

Aljar Swartz van Kaapstad het in Februarie 2016 erken hy het in 2013 'n tiener van Ravensmead se kop afgekap sodat hy die liggaamsdele aan 'n sangoma kan verkoop.

Hy het Lee Adams (15) op 17 Oktober 2013 verwurg en daarna sy kop afgesny. Lee se kop is later in 'n vlak graf in Swartz se agterplaas gevind. Hy het ook erken hy het vier mans omgepraat om 'n slagoffer te lok wat hy sou vermoor vir liggaamsdele.


Mark Griffin, Sasoun Keshish en Eric Perrella sê in hul boek Muti Medicine menslike liggaamsdele en organe het verskillende waardes.

'n Hand van 'n slagoffer wat voor 'n winkel begrawe word, kan glo meer klante na die winkel trek. Genitalieë bring kamstig geluk en gesondheid vir die sangoma se kliënt terwyl die brein kennis en intelligensie ontlok.

'n Sangoma het in Februarie 2017 pamflette op lamppale in Gauteng geplak met 'n boodskap aan enigiemand wat haastig geld wou maak.

"Dr Uba" het volgens dié pamflet die beste pryse vir menslike liggaamsdele en organe gebied en genoem dat hy "gretig is om kontant te betaal" nadat daar raadpleging tussen hom en die voornemende verkoper plaasgevind het.

Die maksimum bedrae wat aangebied is, sal letterlik en figuurlik die oë laat rek:

  • Oë: R5 000
  • Borste: R8 000
  • Tong: R2 500
  • Manlike geslagsdele: R1 600
  • Nier: R3 800

Kapt. Kay Makhubele, Gautengse polisiewoordvoerder, het mense destyds gemaan teen dié fop-advertensie.

Bronne: ewn.co.za, news24.com, iol.co.za