Luidens berigte het die vrou (38) se man vroeër die dag vanweë siekte in die hospitaal gesterf.

Die brand is vermoedelik deur ’n kers veroorsaak wat langs ’n gordyn geplaas is. Volgens lt. kol. Thulani Zwane, polisiewoordvoerder, het die gordyn aan die brand geslaan.

Die kinders het gelukkig ontsnap, het Ceron Lennox, operasionale bestuurder van Rescue Care Paramedics, gesê.

Een van die vrou se bure sê hulle het gesien hoe sy uit die kamer probeer kom het, maar die dak het op haar in duie gestort.

Toe Rescue Care Paramedics saam met die Durban-brandweer op die toneel aangekom het, was die huis in Lewis Byron-weg reeds in ligte laaie.

“Die Durban-brandweer het die vlamme geblus terwyl paramedici die kinders ondersoek het. 

“Toe die brand geblus is, het hulle die huis binnegegaan en ’n vrou in haar 30’s aangetref wat ernstige brandwonde opgedoen het. Die paramedici kon niks meer doen nie en sy is op die toneel dood verklaar, het Lennox gesê.

’n Buurvrou het na die kinders omgesien, het sy gesê.

Die kinders was nog in skok na hul pa se dood en het gedink hul ma kyk na die huis wat aan die brand is. Hulle is nou by hul ouma in Umlazi.

’n Ondersoekdossier is by die Bellair-polisiekantoor geopen, het Zwane gesê.

Bronne: ecr.co.za, news24.com,