Brian Jackson, bedryfsbestuurder van Blue Security, sê die straatrooftog was een van verskeie ernstige voorvalle, waaronder kapings en gewapende rooftogte, wat in die laaste paar dae in dié voorstad aangemeld is.

“Ons beampte het omstreeks 17:00 Saterdag in Hollander-singel gepatrolleer toe hy ’n groep baie dapper kinders ’n man sien agternasit wat pas ’n 14-jarige meisie van haar selfoon beroof het. Hy het haar met ’n mes gedreig terwyl sy saam met die ander kinders gestap het,” sê Brian.

Lees ook: Moderne tegnologie kniehalter selfoondiewe

Die beampte het hulle agternagesit, die man gevang en die meisie se ouers gebel. Die Berea-polisie is na die toneel ontbied.

Hoewel die kinders dapper was om die gewapende verdagte agterna te sit, sê Brian dit is nie raadsaam nie, want so iets kan maklik tragies eindig.

“Ouers moet ongelukkig dikwels met hul kinders oor die gevare van misdaad praat en hulle waarsku om nie ’n selfoon of tabletrekenaar te gebruik terwyl hulle buite stap nie, want dit maak van hulle maklike prooi vir misdadigers,” sê hy.

Dit was die tweede voorval in die laaste paar weke waar kinders op straat geteiken is. In die eerste voorval, in Glenwood, het misdadigers in ’n motor ’n groep kinders van hul besittings beroof.

News24