Duncan, ’n oudleerder van die Hoërskool Jim Fouché in Bloemfontein, is met ’n gehoorprobleem gebore en dra reeds van die ouderdom van sewe jaar gehoorstukke.

“Dit het ’n groot impak op my lewe gehad, want ek moes by die wêreld aanpas om ’n ‘normale lewe’ te kan hê. Dit het my geleer ’n mens moet jouself aanvaar en besef jy kan altyd ’n verskil in die wêreld maak.”

Lees ook: Op jou selfoon agter die stuur is gevaarliker as wat jy dink

In 2012 het Duncan die geleentheid aangegryp om ’n ER24-noodhulpkursus by te woon. “Ek het dit so baie geniet dat ek vlak 3-noodhulpopleiding voltooi het.”

Sidney Venter, sentrale streekbestuurder by ER24, het gesê: “Duncan se beste eienskap is sy bereidwilligheid om enigiets aan te pak wat van hom gevra word. Hy laat nooit sy gehoorgestremdheid in sy pad staan nie en sal nooit sê hy kan iets nie doen nie. Hy werk hard en kla nooit.”

Lees ook: Nie taal, tegnologie of selfs kanker keer ouma van graadvang

Op sy beurt sê Duncan: “Dit is my passie om mense in nood te help, maak nie saak hoe groot of klein die probleem is nie. My grootste dryfkrag is dat ek elke uitdaging sien as ’n geleentheid om my vaardighede aan te vul sodat ek my pasiënte die beste mediese sorg moontlik kan gee. Hoe meer ’n mens gee, hoe beter is jou resultate. Moet nooit ophou om in jouself te glo nie.”

Duncan studeer nou aan die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit in Port Elizabeth vir ’n B.A.-graad in mediese nooddienssorg.

Bron: arrivealive.co.za