Dunay het haar 30ste verjaardag op ’n plesierboot in Europa gevier toe Kurt ’n paar dae ná haar vertrek in ’n ernstige motorongeluk was en met agt gebreekte ribbes in die hospitaal opgeneem is. Twee van sy vriende, Marnus Bisschoff en Nadia van Rensburg, was ook in die voertuig.

Sy het sowat 12 uur ná die voorval eers van die ongeluk gehoor.

“Die laaste 48 uur was ’n storie wat ek nooit wil oorhê nie. Daar is oproepe wat nie wil nie deurkom nie,” het sy Huisgenoot vandag laat weet. “Ek weet nie hoekom nie; my foon is net aan waar ek Wi-Fi kan kry.”

Die donkerkop het op die skeepsvaart saam met haar ma en tannie vertrek nadat Kurt die reis vir haar as ’n verjaardaggeskenk gegee het. Hy kon juis nie saamgaan nie omdat hy te veel werk gehad het, het sy bestuurder, Louis van Wyk, gesê.

“My hart is bitter baie seer,” het Dunay in ’n e-pos geskryf.

Kurt word steeds in die Milpark-hospitaal in Johannesburg behandel nadat hy Sondag in die vroeë oggendure per helikopter van die ongelukstoneel in Pretoria na Milpark in Johannesburg geneem is. Hy het onder meer agt ribbebene gebreek, maar aanvanklik is gevrees hy het sy rug gebreek. Marnus het rugbeserings opgedoen en Nadia se regterbeen is gebreek. Die twee word in afsonderlike hospitale in Pretoria behandel.

Marnus en Nadia was Saterdagaand op pad om Kurt by sy huis in Pretoria te gaan aflaai toe die ongeluk enkele kilometer van sy huis gebeur.

Die voertuig het in ’n rivierbedding beland nadat Marnus vir ’n aankomende motor uitgeswaai het.

- Deur Danél Blaauw Besoek ook: Foto's van Kurt se ongeluk Foto's van Kurt Darren Foto's van Kurt en Dunay se troudag