Wanneer passasiers begin insluimer, raak die bestuurder noodwendig ook vaak, waarsku Juergen Zulley, ’n slaapnavorser en dosent in biologiese sielkunde aan die Universiteit van Regensburg in die Duitse staat Beiere.

“Die syfers toon die risiko vir agter die stuurwiel insluimer en in ’n padongeluk betrokke raak, is veel hoër wanneer die passasiers slaap. Die risiko verlaag wanneer die passasiers wakker is en die bestuurder in ’n goeie bui hou,” het hy gesê.

Juergen sê die ontspanne, gereelde asemhaling en onaktiewe posisie van ’n slapende persoon kan ’n bestuurder aan die slaap sus.

Padveiligheidstatistiek toon ’n kwart van noodlottige padongelukke op Duitse paaie het gebeur nadat die bestuurder aan die slaap geraak het en beheer oor die voertuig verloor het.

Juergen het reisigers aangeraai om bedag te wees op die tekens van uitputting by die bestuurder, soos oormatig gaap. Insittendes moet aandring op ’n lang ruspouse sodat die bestuurder kan rus voor die reis hervat word.