Luisteraars van radiostasie Jacaranda FM was tydens Woensdagoggend se Good Morning Angels-instelsel so geroer deur die brandslagoffer Sean Smith (17) se verhaal dat hulle in minder as drie uur meer as R800 000 vir hom ingesamel het.

“Mé-Lissa (Sean se ma) is verheug oor al die omgee wat mense toon,” sê haar vriendin Amoré Jooste.

“Op pad terug van die radio-ateljee het sy gesê sy het nie woorde vir hoe baie ondersteuning sy van mense kry wat Sean nie eens ken nie.”

Sean het verlede Maandag in ’n fratsongeluk in Centurion erge brandwonde opgedoen.

Mé-Lissa was onseker of haar kind gaan oorleef omdat sy mediese koste nagenoeg R700 000 beloop het toe hy by Unitas opgeneem is.

Maar vir dié ma lyk die toekoms nou baie beter nadat sy en Amoré Sean se hartroerende storie vanoggend op die lug gedeel het. Hulp het ingestroom en hulle het R843 000 vir Sean ingesamel.

Omdat Sean nie tot ’n mediese fonds behoort nie, moes hy verskuif word na die George Mukhari Akademiese Hospitaal, ook bekend as die Ga-Rankuwa-hospitaal.

Sean wag tans op ’n bed in die stampvol Chris Hani Baragwanath-staatshospitaal se brandsorgeenheid, maar sy ma hoop hulle kan genoeg insamel om hom in die privaat hospitaal Milpark te laat opneem.

Die ingesamelde geld sal gebruik word vir Sean se mediese onkoste by Milpark se brandsorgeenheid. “Ons benodig nog R800 000,” sê Amoré.

“En dit is net om vir hom ’n bed in Milpark te kry; dit sluit nie teaterkoste of konsultasies in nie.”

Die tiener het Dinsdag sy tweede groot operasie ondergaan en is volgens Amoré in ’n stabiele toestand, maar onder swaar verdowing.

“As alles goed gaan, sal hy môre geskuif word na Milpark toe,” sê sy.