Die advertensie vir die Ierse aanlyn weddery Paddy Power het in Maart 2014 verskyn terwyl Oscar se moordsaak nog aan die gang was.

Dit het lesers belowe hulle sal hul geld terugkry “if he walks”, ’n woordspeling nie net op Oscar se kans om vrygespreek te word nie, maar ook om as dubbel geamputeerde uit die hofsaal te stap.

’n Allemintige 5 525 klagtes is ontvang. Diegene wat hul stem dik gemaak het, het gevoel die advertensie maak ’n bespotting van ’n ernstige saak waarin ’n vrou dood is, sowel as Oscar se gestremdheid.

Die advertensie is intussen verbied. Paddy Power erken die advertensie is dalk ongevoelig, maar dat hulle glad nie aanstoot wou gee nie.

Intussen is Oscar in sy vierde maand agter tralies ná sy skuldigbevinding aan strafbare manslag vir die skietdood van Reeva Steenkamp in Februarie 2013.

Bronne: THE GUARDIAN; NEWS24