paulwalker4

Die gebrul van hoëverrigting-motorenjins het Sondag opgeklink toe duisende aanhangers, vriende en motorgeesdriftiges na Santa Clarita in Kalifornië opruk om hul eer aan Paul Walker te betoon op die plek waar die Fast and the Furious-akteur in ’n motorongeluk dood is.

Die gedenkdiens, wat per sosiale media gereël is, sou twaalfuur begin, maar rouklaers het al ure vooraf opgedaag om blomme, kerse, knuffelspeelgoed en ander aandenkings daar neer te sit.

Teen die middag was daar sowat 5 000 mense, onder wie hele gesinne met kinders. Kapt. Mike Parker, van Los Angeles se polisie, sê die byeenkoms het merendeels vreedsaam verloop. ’n Man is in hegtenis geneem toe hy met ’n deels versteekte gelaaide vuurwapen betrap is en 40 boetes is vir onwettige parkering uitgereik, het Mike gesê.

Baie mense het opgedaag in motors wat vir spoed gebou is en die toere opgejaag naby die plek waar Walker en sy vriend op 30 November dood is. Die geleentheid is Sondagaand afgesluit met ’n rit deur die gebied 30 km noordwes van die middestad van Los Angeles.

Paul (40) is dood nadat die Porsche Carrera GT waarin hy gery het teen ’n lamppaal en boom gebots het en toe in vlamme uitbars. Die akteur se vriend en finansiële raadgewer, Roger Rodas, wat agter die stuur was, is ook dood. Die polisie het gesê spoed het ’n rol in die ongeluk gespeel.

Die twee het ’n passie vir vinnige motors gedeel. Hulle het saam ’n renspan besit wat na Roger se winkel vir doelgeboude motors, Always Evolving, genoem is en Roger (38) het vanjaar professioneel vir die span in die Pirelli-wêrelduitdaagreeks gery.

Los Angeles se polisie het Sondag op die ongelukstoneel die verkeer gereguleer wat dikwels swaar was toe soveel rouklaers per motor en te voet daar opdaag.

Baie van die mense wat vroeg aangekom het, het by ’n kerk daar naby stilgehou waar hulle in die oggendkoue rondgemaal het.

Een van hulle was Edi Maya, ’n tuinier wat in Paul se buurt gewerk het. Hy het gesê het hy het af en toe met die akteur gesels.

“Ek het elke week of twee langs sy huis gewerk. Dis hartverskeurend om die kerse daar te sien,” het hy aan KABC-TV gesê.

Die akteur Rick Yune, wat saam met Paul in The Fast and the Furious ’n hoofrol gespeel het, het ook ’n draai gemaak.

“Ons betreur sy heengaan, maar ons kan ten minste onthou hoe ’n  goeie ou hy was en sy lewe vier,” het Rick vir verslaggewers gesê.

Paul was in Santa Clarita vir ’n geldinsameling vir sy liefdadigheidsorganisasie, Reach Out Worldwide, ten bate van slagoffers van die onlangse tifoon in die Filippyne. Die geleentheid het by Roger se winkel plaasgevind en die twee het weggeglip om ’n ent in Roger se motor te gaan ry.

Die eksklusiewe reeks Porsche het voorheen aan die IndyCar-bestuurder Graham Rahal behoort en dié het gesê dit kan moeilik wees om te bestuur.

Paul, wat in vyf van die ses Fast and the Furious-flieks gespeel het, was die gesig van die rolprentreeks. Hy het aan die sewende fliek in die reeks gewerk toe hy dood is.

Universal Pictures het die vervaardiging van die rolprent gestaak terwyl hulle oorweeg hoe hulle dit sonder hom kan voortsit.

-         Sapa