Met hul duisende dollars en droomrokke vir hul groot dag steeds binne-in die winkel. . .

Die gewilde Alfred Angelo-groep, een van die grootstes van sy soort in die wêreld, het Vrydag aansoek gedoen om bankrot verklaar te word. Luidens berigte het die groep aangedui hul bates is R647 000 of selfs minder werd.

Saterdag is die deure van elkeen van die groep se 60 winkels in Amerika gesluit.

Dis nie al nie. Die groep verskaf ook trourokke aan ongeveer 2 500 bruidswinkels in 34 lande.

Paniekbevange bruide is radeloos. Een van hulle is Nia Edwards van Anaheim, Kalifornië, wat oor 15 dae trou.

Die winkelvensters was toegeplak en die polisie was oral.

Haar bekommerde strooimeisies het haar oor die bankrotskapgerugte ingelig en sy het besluit om self ondersoek te gaan instel, veral nadat die winkel nie haar oproepe beantwoord het nie.

“Die winkelvensters was toegeplak en die polisie was oral,” het sy in ’n e-pos gesê. Sy kon daarin slaag om een van die verkoopsmense in die winkel se aandag te trek.

Nia was een van die gelukkiges. Haar rok van byna R16 000 was in daardie stadium by die naaldwerkster en sy kon dit weer in die hande kry.

Amber McGraw moes met leë hande omdraai. Sy het reeds sowat R13 000 betaal vir haar droomrok en moes na meer as ’n uur van wag en wanhoop bes gee. Sy gaan nie oor 63 dae in daardie rok voor die kansel staan nie.

Cecilia King het haar tot Facebook gewend. Sy trou in Oktober en het in Maart reeds haar rok bestel en betaal.

Tina Braz, oorspronklik van Suid-Afrika en nou ’n veldtog-produsent vir Vox Media in New York, moes die hartverskeurende oomblik ervaar toe sy ’n voorbeeld van haar droomtrourok aangepas het.

Sy sou dit deur Alfred Angelo laat maak het. Maar so byna-byna was haar droom en haar trourok iets van die verlede.  

Gelukkig kon sy toe wel die rok wat sy as voorbeeld aangepas het, koop.

Patricia Redmond, Alfred Angelo Bridal se regsverteenwoordiger, gaan na bewering die trustee wat deur die hof aangestel is, versoek om die rokke wat gereed is om by die winkel opgetel te word, vry te stel.

Sy het reeds ongeveer 7 300 e-posse ontvang van bruide wat pleit, smeek, dreig en eis om hul beloofde en betaalde trourokke betyds in die hande te kry. Patricia sê sy prioritiseer die e-posse na gelang van die aangeduide troudatums.

Dit was nie net die bruide wie se voete spreekwoordelik deur die bankrotskap onder hulle uitgeskop is nie.

Wat 'n tragiese einde vir 'n groep wat in 1933 deur Alfred Angelo Piccione en sy vrou, Edyth Vincent Piccione, tot stand gebring is.

Een van die naaldwerksters in diens van Alfred Angelo Bridal, Mollie Frish, het gesê werknemers moes die skokkende nuus hoor toe hulle Donderdag by die werk opdaag.

Dit is in hierdie stadium onseker of die werknemers enige vergoeding gaan ontvang. Wat 'n tragiese einde vir 'n groep wat in 1933 deur Alfred Angelo Piccione en sy vrou, Edyth Vincent Piccione, tot stand gebring is.

Die groep het tot dusver nog net op hul webwerf 'n bondige verskoning aangebied: "Ons vra om verskoning vir die ongerief en swaarkry wat hieruit voortgespruit het. Ons waardeer jul geduld. Dankie."

Alles is nie verlore nie

Vroue wat reeds hul troudag agter die rug het en al te deeglik bewus is van die spanning oor daardie spesiale dag en rok in ’n bruid se lewe, het nou ook tot die (goeie) stryd toegetree. Talle bied hul eie rokke aan vir diegene wie se trourokke agter slot en grendel is.

Hierdie is die laaste plasing deur die groep op Twitter. Ironies genoeg belowe Alfred Angelo Bridal om "jou huweliksdrome te bewaarheid".

In hierdie stadium voel talle benadeelde bruide waarskynlik asof hulle die hoofrol in Finding Nemo eerder as The Little Mermaid vertolk.

Twitter se reaksie

Bronne: miamiherald.com, bizjournals.com, nbcwashington.com, globalnews.ca