Die vlug-en-stuurkajuit-stemopnemers, wat uiters belangrik is om te help bepaal wat veroorsaak het dat ’n straler neergestort het, is in die agterste gedeelte van die vliegtuig geleë.

Duikers en minstens ses skepe wat met onderwater-opspoorders toegerus is, werk in die gebied waar ’n onbemande onderwatervaartuig die stert Woensdag, die 10de dag van die soektog, opgemerk het, sê Suryadi B. Surpiyadi, ’n soek-en-reddinsoperasie-koördineerder van Pangkalan Bun, die naaste dorp aan die toneel.

Die wrakstukke is onderstebo en deels begrawe op die seebodem gevind sowat 9 km van waar die Airbus A320 met 162 passasiers en bemanningslede aan boord op 28 Desember met die beheertoring kontak verloor het. Die vliegtuig was amper halfpad tussen die Indonesiese stad Soerabaja en Singapoer.

Die registrasienommer, PK-AXC, en deel van die AirAsia-logo bewys dit was deel van die vliegtuig, sê Surpiyadi.

Die duikers kon nie Donderdag vordering maak nie. Die water in die Javaanse See is redelik vlak met ’n diepte van sowat 30 m, maar dit is die slegste tyd van die jaar vir ’n herwinningsoperasie met moesonreën en wind wat onstuimige seetoestande skep en verblindende slik van rivieruitvloei.

Tony Fernandes, AirAsia se hoof uitvoerende beampte, het Woensdag getwiet die vlugopnemers behoort in die stert te wees.

Die lugdiens het intussen gesê die naasbestaandes van die gestorwenes sal vergoed word in ooreenstemming met Indonesiese wetgewing. Elkeen sal sowat R1,15 miljoen ontvang, het Sunu Widyatmoko, die voorsitter van AirAsia Indonesië, in Soerabaja aan verslaggewers gesê.

- Sapa