Amateurduikers aan die kus van Israel het aanvanklik gedink die goue muntstukke op die seebodem is van ’n bordspeletjie. Maar heel gou het hulle besef dis allermins speelgoed.

’n Groep duikers het ’n paar weke gelede ’n ryk vonds goue muntstukke ontdek wat meer as duisend jaar op die seebodem gelê het. Die ontdekking is gedoen naby die geskiedkundige hawestad Sesarea, ’n belangrike handelsentrum in die outyd.

Daar is eindelik meer as 2 000 muntstukke gevind van uiteenlopende groottes en denominasies. Die oudste is ’n dinar, wat omstreeks die 9de eeu gemunt is in Palermo, Sisilië.

Argeoloë van die Israeliese owerheid vir oudhede bespiegel nou oor hoe die vonds op die seebodem beland het. “’n Staatskip van die tesourie onderweg na Egipte het waarskynlik daar gesink,” meen Kobi Sharvit van die owerheid. “Dit was moontlik onderweg met ingevorderde belastinggeld.”

Die owerheid het die duikers bedank dat hulle dadelik die ontdekking aangemeld het, pleks van die skat vir hulself te hou.

Nog opgrawings op die seebodem word beplan in die hoop om nog argeologiese skatte daar te vind.

Bronne:Daily Mail, CNN, The Guardian