Byna vier dekades gelede, en net vyf maande na sy sprokiestroue met Juani (57), het Augustin (60) sy trouring verloor terwyl hy saam met sy skoonfamilie aan die Mediterreense kus geduik het.

Dié Spaanse paartjie, wat op 17 Februarie 1979 getroud is, was oortuig die ring is vir ewig weg. Maar die noodlot het ander planne gehad.

Toe Jessica Cuesta, 'n duikinstrukteur van Benidorm in Spanje, 'n ring op die seebodem opspoor gedurende 'n duiksessie in Augustus, was sy vasberade om die eienaar daarvan op te spoor.

"Ek het 'n trouring gevind terwyl ek langs Benidorm-eiland geduik het," het Jessica op Facebook gekryf. "Ek wens ek kan dit aan die eienaar terugbesorg. Dit is al 'n lang, lang tyd verlore omdat dit heeltemal met sendiment bedek is."

Ná Jessica die ring skoongemaak het, kon sy die naam Juani daarop gegraveer sien sowel as die paartjie se troudatum, 17-02-1979. Sy het nie die besonderhede van Juani se naam aanlyn bekend gemaak nie om so kansvatters te keer.

Jessica se pleidooi het gewerk. Haar inskrywing is meer as 80,000 gedeel en het eindelik by Augustin se niggie uitgekom.

Oorbluf het Augustin vir Jessica gekontak. "Om te wys dit is regtig my ring het ons vir haar 'n afdruk van ons familieregister en 'n foto van die trouring gestuur," vertel Augustin. Toe Juani egter vir Jessica haar naam gee, was die koeël deur die kerk.

Augustine meen hy was aangenaam verras om sy trouring na soveel jare weer terug te kry. "Dit is meer as 'n materiële item, dit is iets baie simbolies en emosioneel aangesien dit die ring is waarmee ons getroud is."

Die paartjie gaan later vandeesmaand met Jessica ontmoet sodat sy die ring in persoon aan hulle kan terugbesorg.

Bronne: Fox News; Metro