Jy kan maar sê hy was die bekendste plakker in die land. Nuuskieriges het stilgehou om te hoor hoe dit met hom, die skaaphond Jesse en die Jack Russell genaamd Stompie gaan.

[caption id="attachment_128869" align="alignnone" width="600"]Duif en sy vrou Helena Hulle moes ook van weldoeners se motorhuise gebruik as stoorplek. Foto: Corrie Hansen Duif en sy vrou Helena Hulle moes ook van weldoeners se motorhuise gebruik as stoorplek. Foto: Corrie Hansen[/caption]

Hy het in sy bakkie geslaap met sy huisraad om hom staan gemaak, sommerso in die voortuin van ’n huis. Hy het in ’n emmer gewas, op ’n vuur kos gemaak en iemand het ’n mobiele toilet kom aflaai. En dit nogal in die jaart voor sy eie, wettige aftreehuis.

Hy het kompleet soos ’n trekboer van ouds gewoon op sy “uitspanplek” hier op Beaufort-Wes, vertel Duif van As. “Ek het net my gesig en bolyf gewas en my tande geborsel.”

Die rede? Sy huurder wou nie padgee uit Duif en sy vrou, Helena, se huis nie en hy het selfs ’n hofinterdik gekry dat Duif sy eie erf moet verlaat. Die hof sou verlede week uitsluitsel gee, maar die huurder het intussen verhuis en die 60-jarige Van Asse maak die huis reg om oplaas in te trek.

Maar nie voor Duif ’n besienswaardigheid geword het nie . . . “Waarheen moes ek met my goed gaan? Ek het nie ’n ander heenkome nie. Dis my huis daardie,” sê Duif waar ons by vriende van hulle se huis gesels.

Vir Helena, wat al vyf hartvatomleidings gehad het en met hoë bloeddruk sukkel, was dit ’n baie traumatiese tyd. “Ons het nooit gedink so iets sou met ons gebeur nie.” Tydens die drama het sy by vriende gewoon. “Maar ek kon nie slaap daardie nagte dat Duif kampeer het nie. Wat sou ek doen as hy iets sou oorkom?”

[caption id="attachment_128870" align="alignnone" width="600"]Van die Van Asse se besittings was amper ’n week lank voor hul huis gepak terwyl Duif daar moes plak. Foto: Francois van Niekerk Van die Van Asse se besittings was amper ’n week lank voor hul huis gepak terwyl Duif daar moes plak. Foto: Francois van Niekerk [/caption]

Dit was Francois van Niekerk, eienaar van die plaaslike koerant Die Courier, wat Duif landwyd bekend laat word het nadat hy vroeg in Junie oor sy huisdrama geskryf het. Die storie het soos ’n veldbrand oor sosiale media versprei. Ondersteuners het kom gesels, bladgeskud, kos gebring of getoet. “Die reaksie was ongelooflik,” vertel Duif, wat hartprobleme en diabetes het. “Dit was koud in my bakkie, maar my hart was warm.”

Duif vertel hy het hier op Beaufort-Wes grootgeword. Sy bynaam kry hy omdat sy gesin lief was vir duifwedvlugte. Sy ma en die hartpionier dr. Chris Barnard was hier saam op skool.

Ná skool het Duif ’n treindrywer geword. Hy en Helena het die hele land vol in spoorweghuisies gebly. In 2000 het hy die aftreehuis in Klein Voortrekkerstraat gekoop. Toe hy einde 2005 medies ongeskik verklaar word, het hulle in hul huis op Beaufort-Wes kom woon.

Maar in dieselfde jaar nog sterf hul jongste seun, Jaco (25), in ’n voertuigongeluk naby die dorp. Dit was ’n harde slag vir die ouerpaar, wat in 1984 hul eersgebore, Martin (toe agt), verloor het toe hul motor naby Beaufort-Wes op ’n grondpad rol. “Ek het nog in die ambulans met hom gepraat,” vertel Duif hartseer oor Jaco se dood. “Dit was ’n slegte tyd daarna; ons wou net wegkom. Daar was nie ’n manier dat Helena hier kon bly nie.”

Toe, vyf jaar gelede, nooi familie wat ’n plaas naby Nieuwoudtville in die Koue Bokkeveld huur die egpaar om daar te bly en emosioneel te herstel. “Ek het my huis vir vyf jaar verhuur.” Duif wil eerder nie die huurder, ’n oudkollega, se naam genoem hê nie. Hulle het volgens hom ’n mondelinge ooreenkoms aangegaan en die man moes R2 000 per maand betaal.

Vyf jaar later het Duif en Helena emosioneel sterk genoeg gevoel om terug huis toe te gaan. Op 29 Februarie vanjaar het Duif-hulle op Beaufort-Wes aangekom; hul meubels was reeds daar geberg.

Die huurder sou einde April trek en hulle het solank elders loseer. Maar toe kry Duif op 5 Mei ’n brief van die man se prokureur: Die huurder sal eers op 1 Junie verhuis, want hy kan eers dan ander blyplek kry. Duif het sy en Helena se losies opgegee vir 31 Mei en hul meubels en bokse uit die bergplekke laat haal.

Maar toe Duif op 1 Junie met sy bakkie vol huisraad by Voortrekkerstraat 58 opdaag, was niemand tuis nie. Die motorhek was oop. Toe trek hy sy bakkie met goedere agterop op die werf en wag. Laatmiddag kom die huurder daar aan. “Hy het my so gekyk en die polisie gekontak.”

Toe ’n polisieman opdaag, wys Duif hom die brief waarin die huurder se prokureur bevestig hy sal op 1 Junie uit wees, maar die huurder ontken dat hy iets van die brief weet. Dis toe dat Duif besluit hy bly net daar op die werf – meubels en bokse en al.

[caption id="attachment_128871" align="alignnone" width="400"]Só moes Martin “Duif” van As in die voorste erf van sy huis in Klein Voortrekkerstraat, Beaufort-Wes “plak” omdat die huurder nie wou uittrek nie. By hom by die vuurtjie is sy honde Stompie (links) en Jack (regs). Foto: Francois van Niekerk Só moes Martin “Duif” van As in die voorste erf van sy huis in Klein Voortrekkerstraat, Beaufort-Wes “plak” omdat die huurder nie wou uittrek nie. By hom by die vuurtjie is sy honde Stompie (links) en Jack (regs). Foto: Francois van Niekerk[/caption]

Ses dae later daag die balju op en sê Duif is onwettig op die grond. “Om nog konflik te voorkom, het ek my goed opgelaai en gewaai.” Straat toe, waar weldoeners hulle oor hom ontferm het en saam met sy vrou en besittings ’n rukkie lank tydelike blyplek gegee het. “Maar eers het ek die werf skoongemaak en gelos soos hy was,” vertel hy.

“Ek het meesal boeliebief geëet en my vuurtjie het die meeste van die tyd gebrand. Die mense het vir my wors en vleis gebring om te braai,” vertel hy. “Die nagte was lank en ek kon baie dink. Dit het my net nog meer vasberade gemaak om my huis terug te kry.”

Helena sê: “Dis so frustrerend. My meubels verniel met die alewige trekkery.” Hul enigste oorlewende seun, Riaan (38), woon in George en was baie bekommerd. “Maar ek het gesê hy moenie kom nie; ons bid vir uitkoms.”

Toe, 10 dae nadat hulle sou intrek, kry Duif die oproep van Mathilda van Niekerk, sy prokureur: Die huurder het uitgetrek. Mathilda, die plaaslike koerantbaas se vrou, sê: “Kragtens wet kan ’n mens nie sommer ’n huurder uit jou huis smyt as hy nie wil trek nie. Jy moet ’n hofproses volg.”

Die regte van huurders word beskerm ingevolge die Wet op die Voorkoming van Onwettige Uitsetting en Onregmatige Besetting van Grond, maar huurders misbruik dit soms om nie ’n eiendom te ontruim wanneer die kontrak verstryk nie, sê Mathilda. Dit loop dan uit op ’n haarklowery in die hof.

[caption id="attachment_128872" align="alignnone" width="600"]Duif en Helena was in ’n regsgeding gedompel om die huurder uit te kry. Foto: Corrie Hansen Duif en Helena was in ’n regsgeding gedompel om die huurder uit te kry. Foto: Corrie Hansen[/caption]

Die leemte in Duif se kontrak, wat deur die huurder opgestel en op papier gesit is, was dat hulle oënskynlik nie ooreengekom het oor hoe lank die huurtydperk sou wees nie. Duif het glo gesê vyf jaar, met die moontlikheid om dit maand vir maand te verleng.

“Ons storie moet vir ander ’n waarskuwing wees. Doen jou huiswerk baie goed voor jy jou eiendom uitverhuur,” maan Duif. “Ek wil ook net vir die mense van Beaufort-Wes dankie sê. Hulle het heeltyd kom vra wat ek nodig het.”

Wat sê die huurder?

Daar was nie ’n mondelinge ooreenkoms nie, sê die huurder se prokureur, Wayne Mostert. Die huurder hou glo ook vol daar was ’n opsie dat die huurtermyn met vyf jaar na 10 jaar verleng kon word. Duif van As het die hof verlede jaar, sewe maande voor die vyfjaartermyn sou verstryk, om ’n uitsettingsbevel gevra. Dis met koste geweier. Die huurder beweer hy het Duif per SMS laat weet sy alternatiewe verblyf het deur die mat geval en hy soek ’n ander plek. Hy het een gekry en daarom het hy op 10 en 11 Junie uitgetrek.

[caption id="attachment_128873" align="alignnone" width="600"]“Ons huis is weer ons s’n.” Die huis in Voortrekkerstraat, Beaufort-Wes waaroor al die drama gegaan het. Foto: Corrie Hansen “Ons huis is weer ons s’n.” Die huis in Voortrekkerstraat, Beaufort-Wes waaroor al die drama gegaan het. Foto: Corrie Hansen[/caption]

As jy jou huis verhuur

  • Voorkom so kopsere en sommer baie regsonkostes: Die Kaapse eiendomsagent en huurkontrakkenner, Cecilia Hansen, gee raad:
  • Laat ’n prokureur of professionele eiendomsagent die kontrak nagaan. Albei partye moet tot elke bepaling instem.
  • Informele of mondelinge kontrakte is ingevolge die Suid-Afrikaanse reg bindend, maar dis baie moeilik om die waarheid te bepaal en dit sal die uitsettingsproses verleng;
  • As ’n huurder ’n bepaling oortree, moet die verhuurder die prosesse volg soos in die kontrak uitgestippel.
  • Fynkam die aansoeke van potensiële huurders. Kry alle kontaknommers en gaan alle dokumentasie en inligting na. Bel die voornemende huurder se werkgewer, asook vorige verhuurders om te verseker die mens is betroubaar.
  • Vir nog inligting, besoek passop.co.za/your-rights/housing-rights-pie.

Lees ook op Huisgenoot.com:

Wanneer jou geld min is, onderhandel!

Kan jy iemand anders se rumoerige huurders uitskop?