Hildegardt is vier maande swanger met haar en haar man van die afgelope vier jaar, die musikant Kuba Silkiewicz, se eerste kind, berig sarie.com. Die baba word in Mei gebore. “My wind was uitgeslaan, ek kon dit nie glo toe ek hoor ek is swanger nie! Ek probeer dit wegsteek, maar almal weet,” vertel sy in die onderhoud. Sy het ook die nuus op haar Facebook-blad gedeel. “Hier is dit nou. Ek wou dit al so lank met julle deel,” het sy op die sosiale netwerk vertel. Sedertdien stroom die gelukwensings in.

Dit gons ook oor die gewilde aktrise se splinternuwe program, Hilde se Hartsklanke, op VIA. Die eerste episode word volgende Woensdag uitgesaai.

Hildegardt en haar man, Kuba, die musiekregisseur van die program, het die program gemaak saam met hul pelle die akteurspaar Diaan Lawrenson en haar man, Jody Abrahams. Diaan, wat vroeër teenoor Hildegardt in 7de Laan opgetree het, werk agter die skerms as vervaardiger en haar man, Jody, behartig die regie.

Die vierstuks het in Augustus die program aan die Weskus en in die Noord-Kaap verfilm. Hildegardt wou nog altyd ’n album opneem en op haar reise na plekke wat haar na aan die hart lê, het sy musiek gemaak met kunstenaars wat oor haar pad gekom het.

In die program gaan kuier sy onder meer in dorpies soos Vryburg, waar sy grootgeword het, en Clanwilliam, waar sy en haar gesin Sondagmiddae uitgespan het.

Sy het begin vermoed sy is swanger terwyl hulle die program verfilm het, vertel sy aan sarie.com. “My baba kom van iewers in die Noord-Kaap. Aan die einde van die shoot sê ek vir Diaan ek word vet, ek dink ek is swanger. Ons lag en maak grappies en sy sê: ‘Meisie, jy sal moet laat kyk.’ Ek was ’n week terug by die huis, toe kom ek agter iets is nie reg nie, want ek is heeltemal te emosioneel.”

Nou is dit amptelik: Sy en haar man word ouers. Veels geluk, julle twee!

Hildegardt se Hartsklanke word vanaf Woensdag 23 November om 20:00 op VIA (kanaal 147 op DStv) uitgesaai.

EKSTRA BRON: SARIE.COM