WENNER

Dit was so bestem – 25 jaar gelede al toe die wenner van HG-Tempo se eerste dubbelgangerkompetisie daar in Bellville die eerste lewenslig aanskou het.

Want daardie dag het sy ouers besluit hul skattige seun se eerste naam sal sy ma se nooiensvan wees, en sy tweede naam dié van sy oupa. Louw Nicolaas Coetzee. En toe Louw se inskrywing op ons tafel in die HG-Tempo-kantoor beland en ons sien hy skryf in as Nicholis Louw se ewebeeld, kon ons skaars ons oë glo. Om eerlik te wees, ons het gebel om seker te maak hy hou ons nie vir die gek nie . . .

Maar vir Louw Nicolaas was die kompetisie geen grap nie, en sy naam is sy naam. En nadat ons redaksie die ander Nicholis Louw-ewebeeldinskrywings bekyk het, was ons dit eens: Van almal was nie een nader aan die ware Jakob as Louw nie.

Hulle het dieselfde pennetjie-hare en dieselfde bruin oë. En kyk net daardie ken, en die mond . . .

Die uiteindelike keuse was nie ons s’n nie. Louw en sewe ander finaliste – een elk vir Theuns JordaanBobby van JaarsveldEmo AdamsJuanita du PlessisAndriëtteNianell en Sonja Herholdt – se gesigte het toe verskyn in die someruitgawe van HGTempo en julle, die lesers, het gestem.

Danksy daardie stemme is Louw vandag R10 000 ryker. Met die fotosessie merk die ware Nicholis in ’n grappige oomblik teenoor die fotograaf op: “Ek is meneer Louw vir jou . . .”

Wel, Nicholis, ons het nuus vir jou: Daar is ’n nuwe meneer Louw op die toneel. Mnr. Louw Nicolaas Coetzee!

NAASWENNER

Dit was amper, maar nie stamper nie. Monnique Rheeders (20) van Roodepoort is die naaswenner in HG-Tempo se dubbelganger-kompetisie, en as jy haar in die verbygaan in die winkelsentrum raaksien, moet jy maar mooi kyk.

Sy en Andriëtte is uit dieselfde lap geknip. As Monnique – wat nou R5 000 ryker is – jou dan boonop vertel dat sy self ’n sanger is wat volgende jaar teologie wil gaan swot aan die AGS Teologiese Kollege van Suid-Afrika sodat sy eendag in die sangbediening kan wees, besef jy gou: Sy het nie net Andriëtte se voorkoms nie, maar straks ook haar stem.

Dis nie waar die ooreenkoms ophou nie: Monnique en Andriëtte hou albei van vakansies by die see en beskou hulleself as diep en ernstig. En kyk net hul skoene! Sonder dat hulle dit afgespreek het, kom al twee vandag by die ateljee aan in ’n paar elegante swart hoëhakskoene met byderwetse bandjies.

Hulle weet hoe om hul beste voetjie voor te sit.

Lees die volledige artikel in die Herfs 2011-uitgawe wat nou landwyd beskikbaar is.