Dis gelykstaande met sowat 100 flieks of 150 episodes van reekse, sê MultiChoice.

Die Explora se hardeskyf het ’n geheue van 2 teragreep, wat ’n groter verskeidenheid inhoud op DStv se Catch Up-diens moontlik maak.

Dié diens sal nou drie keer meer video-op-aanvraag-programme bied.

Die aantal reekse wat beskikbaar is, word uitgebrei en “reeks-ophoping” – waar meer as een episode op aanvraag beskikbaar is – word nou ’n werklikheid, sê John Kotsaftis, uitvoerende hoof van DStv Online.

Op enige gegewe tyd sal kliënte toegang hê tot 30 flieks op aanvraag met die nuwe Catch Up-diens en dit sal uitgebrei word na ander kategorieë, onder meer dokumentêre en kinderprogramme.

DStv se BoxOffice, waardeur die nuutste flieks gehuur kan word, sal tot 20 flieks uitgebrei word.

Die DStv Explora sal van 15 Augustus af in winkels beskikbaar wees. Dit sal R2 499 kos.

Collins Khumalo, uitvoerende hoof van MultiChoice Suid-Afrika, sê die Explora is ontwerp met die toekoms en die internet in gedagte en meer funksies sal in die komende maande bygevoeg word.

Dit behels onder meer inhoud wat via breëband afgelewer word, kanale wat opgeneem kan word selfs al is die persoon nie tuis nie en die huur van BoxOffice-flieks met net een klik.

Sonder bekostigbare hoë-spoedbreëbandtoegang vir die meeste Suid-Afrikaners bly die lewering van inhoud via satelliet-toevoer die betroubaarste manier om te verseker dat kliënte nie hoef te wag dat programme aflaai nie, sê Khumalo.